BUCO Somerset-Wes is vroeër vanjaar as 2021 se hardewarewinkel wat die beste in die provinsie presteer het, en derde beste in die land, aangewys. Dié plaaslike onderneming is in Februarie by die nasionale jaarlikse konferensie van The Building Company – wat byna 100 BUCO-winkels in Suid-Afrika en Namibië besit – met hierdie toekenning vereer. “Ek is baie trots op my personeel en dankbaar vir hul puik klantediens wat ons gehelp het om hierdie sukses te behaal,” het Bertus Malan, winkelbestuurder, gesê. “Ons is trots op hierdie prestasie, maar besef ook dat ons moet aanhou hard werk en klantgerig bly.” Malan het verder gesê BUCO Somerset-Wes se trots is steeds om klante eerste te stel, want “sonder die gewaardeerde ondersteuning het ons gemeenskap nie ’n suksesvolle onderneming nie.” Hy het hul sukses toegeskryf aan goeie, hardwerkende en pligsgetroue personeel wat die visie deel om BUCO Somerset-Wes die beste hardeware- en boumateriaalwinkel in die land te maak. Die span staan slaggereed om besoekers met puik klantediens te verwelkom. Die bestuurspanlede wat spog met die sertifikaat en beker is Recardo Christians (werfbestuurder), Maullen Howse (assistentbestuurder), Margaret Fielies (aankope-bestuurder) en Malan.


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article