Die Gordonsbaai-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat die bestuurder van ’n Volkswagen Polo-sedan Maandagoggend (4 Desember) op die N2 naby die Shell-garage anderkant Sir Lowry’s Pass beheer oor die voertuig verloor en verongeluk het. Volgens ’n polisiewoordvoerder het die bestuurder glo teen die vibracrete-muur gebots en het die voertuig kort hierna in vlamme uitgebars. Verdere inligting oor die voorval is nog skraps. Jermaine Carelse, ’n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, sê brandweerpersoneel is omstreeks 05:55 met ’n noodoproep na die toneel tussen Ou Sir Lowry’s Pass-pad en die vulstasie ontbied. “Die bemanning van Sir Lowry’s Pass-brandweerstasie is uitgestuur en het daarin geslaag om die brand teen 06:20 te blus. Brandbestryders het ’n lyk, onherkenbaar verbrand, in die voertuig ontdek en die polisie in kennis gestel. Die oorsaak van die voorval is onbekend en word ondersoek,” sê Carelse. Foto: Rick Marais


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article