Juan Fouche van Victoriapark is as die Stad Kaapstad se Buurtwaglid van die Jaar vereer.


  • Die Helderberg het twee buurtwaglesers, Juan Fouche van Victoriapark en Carl Gersbach van Strand, erken vir hul bydrae tot gemeenskapsveiligheid by die Stad Kaapstad se jaarlikse toekenningsgeleentheid.
  • Fouche het die Buurtwaglid van die Jaar-prys gewen, terwyl Gersbach as “Inspirasie van die Jaar” benoem is.
  • Die prysuitdelingsgeleentheid het uitsonderlike prestasie en toewyding erken, met die Strand-buurtwag wat ook ‘n toekenning vir maatskaplike verantwoordelikheid ontvang het.

Die Helderberg pronk weer eens met twee vrywilligers van afsonderlike buurtwagte wat die afgelope naweek by die Stad Kaapstad se jaarlikse buurtwag-toekennings vir hul onskatbare bydraes tot misdaadbekamping en gemeenskapsveiligheid vereer is.

Victoriapark-buurtwag se Juan Fouche en Strand-buurtwag se Carl Gersbach is twee van die agt individue wat Saterdag (23 November) by die prysuitdelingsgeleentheid in die raadsaal by die burgersentrum vereer is.

Die prysuitdelingsgeleentheid poog om uitsonderlike prestasie en toewyding in gemeenskapsveiligheid en -opheffing te erken wat deur gemeenskappe en buurtwaglede benoem is. Die toekenningsgeleentheid is voorafgegaan deur ’n benoemingstydperk wat Maandag 9 September geopen en Vrydag 4 Oktober gesluit het.

Luidens ’n persverklaring deur die Stad se mediakantoor is ’n oorweldigende reaksie op die beroep vir benoemings ontvang en die beoordelingspaneel het die motiverings, ondersteunende bewyse en terugvoer noukeurig hersien.

“Die vrywilligers, wat deel van buurtwagte is, is ’n integrale deel van ons pogings om ons gemeenskappe veiliger te hou en vervul ’n belangrike rol om misdadigers weg te hou,” het die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, gesê.

“Die toekennings is ’n teken van ons waardering vir die werk wat hulle doen en ’n saluut aan hul dapperheid en toewyding. Hulle ondersteun ons wetstoepassingsdepartemente en help ons om sterker buurtgemeenskappe te bou.”

In die afdeling vir individue het Fouche die prys vir Buurtwaglid van die Jaar ontvang vir sy “uitstaande prestasie in die handhawing van die doel om sy lede en eiendom te beskerm”.

Gersbach is vereer met die gesogte titel “Inspirasie van die Jaar” as buurtwaglid wat inspirerende openbare leierskap oor verskeie buurtwagte heen getoon het – alles ter ondersteuning van gemeenskapsveiligheid en die groter openbare belang.

Volgens Fouche is hy trots en nederig oor die erkenning, waarvoor hy nie sonder die onwrikbare ondersteuning van sy vrou, Janie, asook die res van die buurtwag-span, in aanmerking sou kom nie.

Vir Fouche vuur die erkenning sy brandende passie aan om in sy gemeenskap terug te ploeg. “Die erkenning versterk my vasberadenheid om ons Victoriapark-gemeenskap vir ons kinders en kwesbares veilig te hou – ’n plek waar jy veilig in die straat kan stap sonder om oor jou skouer te kyk,” het hy gesê.

Fouche, wat sedert 2020 aktief by die buurtwag betrokke is en nou as adjunkpatrollie-koördineerder dien, het die volgende boodskap aan die gemeenskap uitgestuur: “Ons woon immers almal in dieselfde gemeenskap, Victoriapark, waar ons moet uitkyk vir mekaar. Leer jou bure ken, stig ’n WhatsApp-groep met die inwoners in jou straat en verleen hulp waar dit nodig is.”

Volgens Gersbach is hy heeltemal verras deur die toekenning wat hy glad nie verwag het nie.

“Ek dink daar is mense wat weet dat ek ’n mediese terugslag gehad het en die pad nie altyd maklik was nie, maar omdat ek 15 jaar gelede by die Strand-buurtwag aangesluit het, moes ek volhard.

“Hierdie erkenning is egter vir alle lede van die Strand-buurtwag, wat net so hard werk en ook hul tyd vrywillig tot voordeel van die gemeenskap opoffer. Dit is ’n span-georiënteerde organisasie en dit is belangrik om gefokus te bly,” het Gersbach gesê.

Onder die vier wenners in die groeptoekenningsafdeling is die Strand-buurtwag met die toekenning vir maatskaplike verantwoorde­likheid beloon.

Die Loswillpark-buurtwag (ook in Strand) is met die Moed in Aksie-toekenning vereer.

In lig van dié erkenning het Gersbach, as voorsitter van Strand-buurtwag, gesê: “As ’n geakkrediteerde en geregistreerde organisasie sonder winsbejag, besef ons dat ons, behalwe vir misdaadbekamping, ook ander verantwoordelikhede teenoor ons gemeenskap het. Ons het besef ons het heelwat projekte wat ons binne ons gemeenskap kan aanpak, maar twee projekte het veral uitgestaan, naamlik die ‘Silwer hare is goud werd’- en die ‘Pink Bibs’-inisiatiewe.”

Gersbach het voorts verduidelik “Silwer hare is goud werd” is ’n projek wat op die tehuise vir bejaardes in hul gebied fokus, met die doel om hul nood te verlig. “Dit is ’n projek waarby die hele Helderberg betrokke is en wat deur almal ondersteun word, waarvoor ons innig dankbaar is. Helderberg FM help ons om die boodskap in die gemeenskap te versprei. Ons voer eintlik net die voetwerk uit. Die toekenning behoort eintlik aan die hele Helderberg; ons het dit net namens almal ontvang.”

Die “Pink Bib”-inisiatief is nog ’n uitstaande projek waardeur buurtwaglede haweloses onder die vlerk neem en van opleiding (as karwagte) voorsien sodat hulle op ’n eerbare manier hul eie geld kan verdien en met lewensuitdagings help. “Ek is trots om te sê van hulle het as gevolg van die projek reeds permanente werk gekry en almal se lewe verbeter in die proses. Die projek is al sewe jaar aan die gang. Dit is nie maklik nie, maar deur volharding begin die ‘Pink Bibs’ die vrugte pluk.”

Gersbach het ook ’n pluimpie uitgespreek aan lede van die naburige Loswillpark-buurtwag, wat as mede-wenners van die groep-toekennings gewys het wat in hulle steek. “Die Loswill-buurtwag is reg langs Strand-buurtwag. Ek haal my hoed af vir die buurtwaglede wat hul werk onder baie moeilike omstandighede doen. In die begin het Strand-buurtwag hulle met toerusting en radio’s ondersteun om hul taak te vergemaklik. Ons is geweldig trots op die welverdiende erkenning wat hulle ontvang het. Dit is lekker om saam met hulle te werk en saam die kusdorp ’n beter plek te probeer maak.”

Abdul Kader Fanie, die voorsitter van die Loswillpark-buurtwag, het sy tevredenheid uitgespreek en gesê: “Ek bars nog uit my nate so trots is ek op my span! Die award is regtig vergoeding vir die buurtwaglede se opoffering en toewyding om die gemeenskap te patrolleer, ongeag of dit nou laataand of in haglike weersomstandighede is. Die welverdiende erkenning word beskou as ’n dankie vir hul harde, vrywillige werk om ons woonbuurt te beveilig. Ons is regtig dankbaar en geëerd as die begunstigdes van die toekenning!”

JP Smith (burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, links) en Mzwakhe Nqavashe (regs), saam met verteenwoordigers van die Strand-buurtwag, Anje Hanekom en Carl Gersbach. Die plaaslike buurtwag het ’n groep-toekenning vir maatskaplike verantwoordelikheid losgeslaan. Gersbach, die voorsitter, is ook met die gesogte titel as Inspirasie van die Jaar vereer.

Loswill Park-buurtwag het die Moed in Aksie-toekenning losgeloop! Hier saam met raadslede JP Smith (burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit) en Mzwakhe Nqavashe is Curtis Terhoven, Zaainoorah Gabier, Abdul Kader Fanie (voorsitter), Waseem Fortuin en Sulaiman Arnold.

You need to be Logged In to leave a comment.