Groot feesvierings is gehou toe ’n Strandse projek, City of Light Project 1, verlede Sondag (12 Februarie) sy 11de verjaarsdag gevier het. Altesaam 110 kinders van gemeenskappe in Strand, wat deel vorm van die gemeenskapsgedrewe projek se Jeug in Plek-program, het die geleentheid bygewoon. Die kinders het geskenkpakkies ontvang en gedans en gesing as deel van hul talente wat ontwikkel word. Volgens Samuel Simons, die voorsitter van City of Light Project 1, word die jeugprogram elke Vrydag suksesvol in Rusthof aangebied. Die doel van die program is om kinders lewensvaardighede te leer sodat hulle kan wegbly van dwelms en bendegeweld. Die program lê ook klem op jeugontwikkeling, beroepsvoorligting en ontginning van die jong mense se potensiaal. Die City of Light Project 1, ’n projek sonder winsoogmerk, doen ook ’n beroep op sakeondernemings in die Helderberg om te help met skenkings vir vervoer om die program uit te brei. Om betrokke te raak of meer inligting te kry, bel Vida Arnolds by 072 937 6768.


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article