Plaaslike rugbytalent: Gino Cupido blink tans uit as medekaptein van die Blitsbokke se A-span gedurende die komende Doebai-7’s-toernooi.


Die Sir Lowry’s Pass-gemeenskap straal van trots nadat ’n skitterende rugby-ster nuwe hoogtes in geskiet het.

Die talentvolle uitblinker Gino Cupido, wat sonder keer sy groot rugby-droom nastreef om eendag vir die Springbokke uit te draf, is een tree nader aan die mylpaal. Dié belowende 19-jarige speler is Vrydag (22 November) as medekaptein vir die Blitsbokke se uitnodigingspan aangewys en wapper die land se vlag as deel van die 7’s-toernooi-aksie in Doebai.

“Dit is vir my ’n groot voorreg om my land en my tuisdorp, Sir Lowry’s Pass, as trotse medekaptein en jongste spanlid te verteenwoordig,” het ’n nederige Cupido gesê.

Die jongeling het Maandag (25 November) na Doebai vertrek, waar hy tot Maandag 2 Desember sy staal op die rugbyveld sal wys. Cupido sal as spanlid onder die land se voorste rugbytalente in altesaam ses wedstryde – twee op die eerste dag, drie op dag twee en twee op dag drie – meeding.

“Ons moet net lekker voorberei en seker maak dat almal op dieselfde bladsy is met hul detail en dat ons ons goed vir die laaste paar dae van die toernooi voorberei,” het Cupido gesê.

Dié kranige rugbyspeler het sy liefde vir die kontaksport as ’n graad-twee-leerder aan Sir Lowry’s Pass Primêre Skool ontdek en ná sy eerste wedstryd het die gogga gebyt. Hy het met besonderse prestasies op die rugbyveld in gr. 2, gr. 3 en gr. 7 telkens ’n diploma as Sportman van die Jaar ontvang.

Op hoërskoolvlak het Gino vir agtereenvolgende jare in die o.18- Westelike Provinsie-Cravenweekspan en die SA A-skolespan deelgeneem. Hy het in 2023 ook die land se vlag as lid van die SA o.18-7’s-span vir die Statebond-jeugspele in Trinidad en Tobago gewapper.

Die voormalige Hoërskool Strand-leerder het egter ook as ywerige atleet en krieketspeler uitgeblink. Maar, dié veelsydige sportman se hart klop die hardste vir rugby – só erg dat hy sy Curriebeker-buiging op 18-jarige ouderdom gemaak het en die onder-21 SA beker as WP-verteenwoordiger gewen het.

Hoewel Gino opkyk na geesdriftige rugbyreuse soos Nieu-Seeland se Rieko Ioane en die Springbok Lukhanyo Am, put hy inspirasie uit sy ma, Zelna.

“My groot rugbydroom is om vir die senior Springbokke uit te draf, maar dit gaan alles harde werk en opofferings verg, waarvoor ek meer as bereid is indien dit deel is van God se groter plan vir my,” het hy gesê.

“Dis vir my besonders dat ek my land in die groen en goud verteenwoordig, want daar is baie jong rugbyspelers wat hierdie geleentheid soek, maar vir wie dit nie beskore is nie. Ek gaan gewis gebruik maak van hierdie voorreg.”

Cupido het verder sy wense vir ’n toer-geleentheid met opwindende rugby en ware spangees te geniet, gedeel.

You need to be Logged In to leave a comment.