Tauhira Fanie neem volgende jaar die leisels oor as skoolhoof by Dr. G.J. Joubert Primêr in Strand. Foto: Jamey Gordon


Seënwense stroom in vir ’n pligsgetroude, passievolle plaaslike onderwyseres wat met die begin van die nuwe akademiese jaar as die eerste vroulike skoolhoof in die bestaan van ’n Strandse laerskool aan die stuur sal wees.

Tauhira Fanie, wie se naam oor die jare sinoniem geword het met dié van Dr. G.J. Joubert Primêr, is verlede maand as dié baken van hoop se nuwe skoolhoof aangestel. Die nuus van die geskiedkundige aanstelling is Woensdag 23 November met die skoolgemeenskap gedeel en volg op die skoolhoof, Martin Leukes, wat ná dekades in diens die tuig neergelê het, se aftrede in Desember verlede jaar.

Fanie, wat die afgelope jaar as adjunkhoof gedien het, sal haar nuwe pos van 1 Januarie af amptelik beklee en haar 28ste jaar saam met die skool in Abattoir-straat van 2023 af as skoolhoof aanpak.

“Ek glo my aanstelling kom uit die Hand van Allah (God) en hiervoor het ek ’n dankbare hart. Hierdie groot loopbaan-mylpaal het nie bloot in my skoot geval nie. Dit het voordurende harde werk geverg, en ek sien uit om met toewyding so aan te hou,” het ’n nederige Fanie gesê.

Die 50-jarige onnie se reis met Dr. G.J. Joubert het in 1995 begin toe sy as opvoeder in die plek van ’n standerd 2-onderwyseres wat met kraamverlof was, ingeval het. Fanie het die vorige jaar haar onderwysloopbaan by Vergenoegd Primêr in Delft begin.

“Met my intrapslag by Dr. G.J. Joubert het my kollegas gesê as jy een keer by dié skool instap, stap jy later swaar weg, want dit is een groot familie. Hierdie woorde was spot on, want dis presies wat ons is – een groot Joubert-familie.”

Oor haar reis wat tot haar bevordering gelei het, vertel Fanie hoe bevoorreg sy was om saam met ervare en toegewyde opvoeders skool te hou. Hulle het haar onder die vlerk geneem en haar die “fynere kuns” agter suksesvolle onderrig geleer. “Ek het nie veel van ’n keuse gehad as om baie hard te werk nie, want harde werk en toegewydheid was sinoniem aan die personeel van Dr. G.J. Joubert.”

Fanie is in 2006 tot departementshoof van die intersenfase, wat uit die intermediêre (gr. 4 tot gr. 6) en seniorfase (gr. 7) bestaan, bevorder. Sy het toe ook as gr. 7-graadhoof en wiskunde-vakhoof gedien.

Fanie is in 2021 as adjunkhoof aangestel, en omdat sy nog altyd geweet het sy beskik oor die potensiaal om die leisels oor te neem, het sy ’n geloofsprong geneem en toe die geleentheid hom voordoen, vir die skoolhoofpos aansoek gedoen.

“Ja, natuurlik het ek geweet ek waag ’n groot kans, omdat die skool nog altyd deur sterk manlike leiers bestuur is, maar danksy God se hand op my lewenspad is my grootste loopbaan-droom verwesenlik.”

Fanie wou nog altyd ’n juffrou wees, en het terugflitse herroep van haar kinderjare toe sy graag met maatjies skooltjie-skooltjie gespeel het.

As sy die geleentheid sou kry om haar loopbaankeuse te heroorweeg, sou sy sonder twyfel weer onderwys kies, want “my groot liefde is om met kinders te werk”.

Volgens Fanie lê haar trotsste loopbaan-oomblikke by die leerders, veral wanneer hul gesiggies ophelder in haar teenwoordigheid. “Dis so bevredigend om ’n les aan te bied en jy letterlik kan sien hoe jy kinders bereik en hulle maak verstaan. Dis verblydend om te sien die groot respek wat leerders, oudleerders, ouers en die gemeenskap vir my het. Die seënwense is oorweldigend en dit doen my hart goed om te weet die skoolgemeenskap staan agter my en ondersteun my,” het sy bygevoeg.

Nog ’n passie is Fanie se knak met wiskunde, die vak waarin sy gespesialiseer het. Sy onderrig wiskunde vir byna 20 jaar aan gr. 7-leerders en getuig graag met positiwiteit van hul uitslae en gesindheid teenoor die vak.

Fanie spog ook met die feit dat sy baie sportief is en vir jare as die skool se sportkoördineerder dien. Op sportgebied het sy haar provinsiale- en SA Skole-gradering as netbalskeidsregter verwerf en was sy dus nog altyd by netbalafrigting en skeidsregting by die skool betrokke, wat ’n menigte provinsiale spelers opgelewer het.

Nog ’n loopbaan-hoogtepunt wat Fanie graag deel, is haar hand as projekbestuurder in die suksesvolle toevoeging van ’n skoolbiblioteek, wat in Februarie by die skool geopen is.

Sy mik om die skool een van uitnemendheid te maak en na nuwe hoogtes te neem. “Ek het baie goeie voorgangers gehad, wat die baanbrekerswerk gelewer het. ’n Goeie grondslag is reeds gelê; ek moet net voortbou,” het Fanie gesê.

Sy spog verder met die bate van ’n A-span vol entoesiastiese, hardwerkende personeel, wat reeds hul gereedheid om die nuwe reis saam met haar aan te pak, bevestig het.

Omdat die leerders Fanie na aan die hart lê, prioritiseer sy ook pogings om te verseker wanneer kinders by die skool se hekke instap, hulle op hul gelukkigste is. “Ons leerders het nie altyd die maklikste omstandighede tuis nie, dus is dit vir my belangrik dat die skool hul veilige en gelukkige hawe moet wees,” het sy verduidelik.

Fanie is oorspronklik ’n Weskus-boorling, wat haar skoolloopbaan by Panorama Primêr in Vredenburg begin het. Nadat sy aan die Hoërskool Weston matrikuleer het, het sy haar onderwysstudies by die Wesley-onderwyskollege voltooi. Dié geliefde onderwyser het Strand later haar tuisdorp gemaak toe sy met ’n Strand-boorling getroud is. “Ek moet my man, kinders en familie bedank vir hul ondersteuning. Hulle het dit vir my maklik gemaak om te ontwikkel in die leier wat ek vandag is,” het sy gesê.

“Ek wil ook my dank uitspreek aan die skoolgemeenskap vir hul vertroue in my. Dit is ’n groot voorreg om die personeel, leerders en ouergemeenskap van Dr. G.J. Joubert te lei en te bestuur. Ek is baie opgewonde vir 2023 en weet ons sal goeie samewerking tussen die skool en gemeenskap hê.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article