Ernstine Sachse spog met haar welverdiende pryse wat sy verower het.


Soos ’n feniks wat uit die as verrys dien ’n voorbeeldige tienermeisie wat bo haar omstandig­hede uitgestyg het as inspirasie vir talle ander leerders wat doelgerig na sukses mik.

Ernstine Sachse, ’n leerder aan Axios-vaardigheidskool, is in Oktober met die skool se jaarlikse prysuitdeling as dux-leerder met vyf diplomas vir uitnemendheid in Engels, Afrikaans, gasvryheidstudies, kuns en lewensvaardigheid vereer. Dié 18-jarige se akademiese sukses volg ten spyte van ongunstige omstandighede wat in haar pad gestaan het en kan toegeskryf word aan haar vasberadenheid, deursettingsvermoë en harde werk sowel as die kosbare ondersteuning van ’n plaaslike familie wat haar ingeneem het.

Dié Strand-tiener is kort nadat sy haar pa ná ’n kankerstryd in 2019 verloor het, deur die Smith-familie van Somerset-Wes ingeneem. Die verlies sou Ernstine genoodsaak het om saam met haar ma na familie in die Weskus te trek en haar opvoeding by Axios te staak.

Maar, sy was vasberade om nie haar skoolloopbaan prys te gee nie, en het dus met die toestemming van haar ma na die Smith-familie gedraai en gevra of sy tydelik by hulle kan bly. Die Smiths het al drie kinders leer ken toe hulle langs die Sachse-gesin in dieselfde kompleks in die Strand gewoon het.

Met die aanvang van die Covid-pandemie het haar broer (13) en suster (7) ook by hulle aansluit.

Die Smith-familie, wat verantwoordelik is vir die kinders se sorg en andersins slegs morele ondersteuning bied, verkies om nie familiename bekend te maak nie, sodat die fokus op Ernstine en haar harde werk bly.

“Sedert sy by die familie aangesluit het, het ons gesien Ernstine heg baie waarde aan haar studies en het voortdurend hard gewerk,” sê ’n woordvoerder van die familie.

“Ernstine het in die laaste drie jaar alles ingesit en is vanjaar met vyf diplomas vir uitnemendheid vereer. Ons moet ook noem dat die onderwysers haar net so onder hul vlerke geneem en toegesien het dat sy die nodige ondersteuning by die skool kry om so goed te kan presteer.”

Die woordvoerder het verder die familie en Ernstine se sibbe se ongelooflike trots uitgespreek.

“Toe Ernstine die dux-prys ontvang, was sy geskok, maar ook trots omdat sy bo haar omstandighede kon uitstyg,” het die woordvoerder gesê.

“Ernstine is ’n pragtige jong vrou met ’n omgeehart en is nie bang om hard te werk nie. Ons hoop sy sal haar drome vreesloos nastreef en ’n voorbeeld vir ander wees. Sy is ’n baken van hoop.”

Indien Ernstine die geleentheid kry, sal sy graag verder wil gaan studeer en ’n beroep in die gasvryheidsbedryf volg. Sy doen tans vakansiewerk by ’n plaaslike restaurant om werksondervinding op te doen.

You need to be Logged In to leave a comment.