’n Ope kanaal op ’n handradio met ’n simkaart in wat kommunikasie vinnig en effektief tussen die polisie se operasionele bevelsentrum en verskeie sekuriteitsmaatskappye moontlik maak kan dalk die oplossing wees vir die stygende misdaadsyfers in die Helderberg.
Die Eyes and Ears Initiative (E2) soos dit bekend staan het sy ontstaan in 2019 in Johannesburg gehad en dit was veronderstel om in 2020 in die Wes-Kaap in werking te tree, maar Covid-19 het die planne in die wiele gery.
Die feit dat dit nog nie in dié omgewing in werking gestel is nie het Heyns de Waal van Gordonsbaai Sekuriteit genoodsaak om ’n vergadering met sekuriteit-rolspelers van die Helderberg, Stellenbosch, Kleinmond asook Business Against Crime South Africa (Bacsa) en verteenwoordigers van die polisie se operasionele bevelsentrum Donderdag 3 November byeen te roep.
“Ons het daardie dag die vergadering gehou, verlede Maandag (7 November) het ons al die radio’s aan die betrokke sekuriteits-maatskappye in die Helderberg uitgedeel en Woensdag 9 November het ons verdagtes vasgetrek wat by ’n gewapende roof in Georgestraat in Strand betrokke was,” het De Waal vertel.
’n Sekuriteitsbeampte van Gordonsbaai Sekuriteit het ten tyde van sy aankoms op die toneel op die E2-netwerk die ander rolspelers laat weet in watter rigting die verdagtes is.
Die Police Operational Command Centre (Pocc) het op hul beurt die plaaslike polisie en wetstoepassers laat weet en teen 12:16 is die verdagte voertuig en die verdagtes vasgetrek.
Die moderne handradio’s wat deur Bacsa geskenk is, is aan onderskeidelik Secure Rite, Vetus Schola Group, Fidelity ADT en AM Sekuriteitsdienste uitgedeel.
Volgens De Waal is die E2-netwerk nie oop vir die publiek nie en net sekuriteits-maatskappye met gewapende reaksie kan aansoek doen om deel te raak van die netwerk, maar hulle ondergaan ’n streng proses by Bacsa voor hul goedgekeur word.
“Die E2-netwerk is so effektief, want ons kan na die polisie se bevelsentrum uitreik en hulle vra vir inligting oor ’n verdagte voertuig,” het De Waal gesê.
“Ten einde nie enige van die Popi-wetgewing te oortree nie, kan die Pocc ons volgens die nommerplaat inlig watter soort voertuig dit is en of die voertuig gesoek word in enige misdaadsake. Dan kan ons besluit of ons die voertuig moet aftrek of nie. Die inligting is dadelik beskikbaar en dit laat ons toe om ons werk effektief te doen.”
Andrew Anthony, uitvoerende hoof van Bacsa in die Wes-Kaap, prys De Waal vir wie hy as ’n ware ambassadeur vir die inisiatief in die Helderberg beskryf.
“Ons beoog dat die hele Wes-Kaap se sekuriteitsmaatskappye so aktief sal raak soos die sekuriteitsmaatskappye in die Helderberg. Die projek is so ontwerp dat alle voorvalle wat aangemeld word direk aan die Pocc gestuur word en hulle stuur dan al die nodige polisie-eenhede na die misdaadtoneel,” het Anthony verduidelik.
Nie net is die netwerk vinnig nie, maar dit stel sekuriteitsmaatskappye ook in staat om direk met mekaar te kommunikeer en om so misdaad makliker te beveg met Pocc wat ook daar is om hand by te sit met inligting en ondersteuning van die polisie.
“Die E2-netwerk gaan uitbrei en daar is baie belangstelling uit talle oorde. Ons wil alles van Stellenbosch, die Helderberg tot en met Kleinmond konnekteer sodat ons as een groot familie saam die misdaad kan beveg,” het De Waal gesê.


