
“Vandag was geheel en al vir die trompoppies. Ek wou dit vir hulle ekstra spesiaal maak,” het Mikal Roman, leier van die Rotariërklub se Trompoppie-projek, gesê.

Die hoogtepunt van die dag was Helderberg se eie radiopersoonlikheid en filmvervaardiger Tracey Lange, wat haar persoonlike reis as ’n trompoppie gedeel het.

Sy het haar vreugde beskryf toe sy as kind deel van ’n trompoppiespan geword het, en die hartseer toe sy dit moes los weens finansiële uitdagings. “Daardie dag het ek besluit niks sal ooit weer in die pad van my drome staan nie—nie eens geld nie,” het Lange gesê.

Sy het beklemtoon watter waardevolle lewenslesse sy as ’n trompoppie geleer het, soos dissipline, stiptelikheid en die belangrikheid van ’n positiewe houding. “Mense vra altyd hoekom ek so groot glimlag. Ek het dit as ’n trompoppie geleer—’n glimlag kos niks,” het sy bygevoeg.

Die geleentheid is verder verhelder deur Gordonsbaai-sangeres Chanté Carstens, wat die trompoppies op hul voete gehad het met haar energieke Amapiano-vertoning.

Hoofafrigter Leandra Worship het haar trots uitgespreek oor die span se prestasies. “Dit is die eerste keer dat 11 van ons meisies Boland-kleure ontvang. Gewoonlik word net drie gekies. Dit is ’n bewys van hul harde werk,” het sy gesê.


Die dag is afgesluit met die oorhandiging van geskenkpakkies vol noodsaaklikhede vir die Desember-vakansie. “Om die glimlagte en opgewondenheid op die meisies se gesigte te sien, was werklik hartroerend,” het Roman gesê. Die Strand Rotary Klub het nie net hul prestasies gevier nie, maar ook selfvertroue en selfwaarde by die trompoppies ingeboesem. Van links: Silvinia Cameron, Mikal Roman (Strand Rotary Drummies projek leier), Alfonzo Noble (voorsitter van Starnd Rotary), Lee-Anne Jantjies, Lanese Hesselman, Adri Nieuwveldt