Kos soos net ‘n ma kan maak – dis wat die bekende sjef Frik de Jager Woensdag (22 Oktober) na Somerset-Wes gebring het met die bekendstelling van sy nuutste kookboek, Koesterkos – resepte uit ons ma’s se kombuise.

By ‘n intieme byeenkoms in die Somerset-Wes-biblioteek het De Jager, wat gereeld op Radio Sonder Grense (RSG) se Klets en Kook verskyn, sy nuutste boek bekendgestel. Die bywoners is bederf met kos wat hy self berei het. Die geur van skons het die biblioteek laat voel soos ‘n Sondagmiddagtee met jou ma terwyl De Jager met almal oor sy boek gekuier het.

Hierdie nuutste werk volg op die sukses van sy eerste kookboek, StorieKos – op reise na resepte, waarin hy Europese resepte gedeel het. Nou bring hy dieselfde benadering van stories met resepte, maar hierdie keer bly hy tuis.
Die resepte dek 75 jaar van Suid-Afrikaanse koskultuur deur die handskrif van sy ma, Hermana, en ouma Lenie. Hy deel gunstelingkos uit sy kinderdae en ou wenke vir die twintigste-eeuse huisvrou.
“Toe ek die boeke deurgaan, het dit gevoel asof ek met hulle praat,”
het De Jager vertel.

Hy het sy kenmerkende styl van peasant food gebring om die pret terug te sit in kook omdat hy voel ander kookboeke en kookprogramme kan te oorweldigend wees.
“Ek gebruik resepte om my agtergrond te gee oor ‘n gereg, so dit maak nie saak as jou teelepel so groot soos ‘n eetlepel is of jou bierbeker so groot soos ‘n teekoppie nie – wie gee om?” sê De Jager.

De Jager het die boek amptelik by Nooitgedacht-landgoed tydens die Toyota Stellenbosch-woordfees op 15 Oktober bekendgestel. Sy Helderberg-toer gaan môre (25 Oktober) voort by Sunset Books in Strand, waar hy nog meer mense sal laat proe van daardie spesiale kos wat net ‘n ma kan maak.



You must be logged in to post a comment.