Die Strand-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen nadat die liggaam van ‘n onbekende vrou by die strand aangetref is.
Luidens ‘n polisieverslag het beamptes Saterdag (3 Mei) om 15:10 op die voorval gereageer nadat ‘n klagte oor die gruvonds naby die Atlantica-woonstelgebou deur die plaaslike polisiekantoor se gemeenskapsdienssentrum ontvang is.
“Met hul aankoms is ontdek dat ‘n onbekende vrou (ongeveer 65 jaar oud) oorlede is; [die] oorsaak van [haar] dood is onbekend. Ná gesprekke met omstanders is die polisiebeamptes ingelig dat die oorledene glo strandlangs in die water geloop het toe sy na bewering ineengestort het,” lui die verslag.
Die polisiewoordvoerder AO Nico Beukes het gister (Dinsdag 6 Mei) bevestig dat die oorledene nog nie amptelik deur familie uitgeken is nie.