Danie Rossouw van die Somerset-Wes-slaghuis, The Butcher & Son, is die Entrepreneur van die Jaar. Hier is Francois Smit (links) en Sanderien van der Walt (regs) saam met Rossouw, wat R50 000 gewen het.


Danie Rossouw, die eienaar van The Butcher & Son, het as wenner van AfriForum se sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie weggestap. 

Die kompetisie is Dinsdag 10 en Woensdag 11 Oktober in samewerking met Akademia, Steyn IP, Kwikstert, Acctiva Accounting, Wolk en Senbel aangebied, en dié Somerset-Wes-slaghuis het die gesogte titel as 2023 se Entrepreneur van die Jaar verower.

The Butcher & Son se fondament is gebou op die volgende kernwaardes: bestendigheid, gehalte, kommunikasie, diens en familie. 

“Ons produk is vir almal, maar ons teikengehoor is gewis meer Afrikaans. Ons ploeg terug in die gemeenskap – my mense van die Helderberg-omgewing – en ons vervul ook ’n rol by ouetehuise, Afrikaanse laerskole en vele meer. Ons doen moeite om ’n buitengewone produk te lewer en kyk veral na spesiale beesrasse vir ons vleissnitte,” sê Rossouw. 

Die finaliste moes elkeen ’n voorlegging doen om aan die uitgesoekte paneel beoordelaars voor te lê. Hoewel pryse op die spel was, is die kompetisie ook uniek danksy die platform wat dit aan die wenner bied. 

Rossouw sê die slaghuis is vir hom nie net ’n onderneming nie, maar ’n passie en groeiende nalatenskap vir sy familie en om in sy moedertaal met die plaaslike gemeenskap van Somerset-Wes en omliggende gebiede regtig te gesels. Entrepreneurskap is van kleins af by Rossouw ingeskerp.

Sy pa is ’n enkelouer, maar het nooit versuim om vir hom en sy broer die beste te gee nie, maar hulle moes self sakgeld verdien.Van sy laerskooldae af het hy in die vakansies kreef geduik en dit aan Pretorianers in Kleinmond se karavaanpark verkoop.

Daar het hy besef hy kan maklik met mense gesels, en so het die verkoopsgogga hom gebyt. 

Behalwe om ’n sterk fondament te bou, probeer Rossouw innoverend bly.

Dit beteken om die mark te verstaan en nuwe idees bekend te stel, wat die slaghuis sal help om bo die res uit te staan.

Dit verg voortdurende navorsing, volgens hom, om op hoogte te bly van neigings, asook om by meer moderne metodes en prosedures binne die vleisbedryf aan te pas.

Rossouw sê die beste besluit wat hy van die begin af gemaak het, was om die onderneming met die regte span op die been te bring.

“Om mense aan te stel wat nie net in pas is met jou handelsmerk nie, maar ook jou waardes. Laat individue met sekere vaardighede toe om die gapings te vul.”

Volgens Rossouw is hy regtig lief vir wat hy doen. Hoewel uiters uitdagend, is The Butcher & Son net so lonend.

“As ek hierdie skuif op die ouderdom van 39 kon maak, glo ek werklik enigiemand kan hul entrepreneursdroom bereik deur die regte doel, beplanning en ondersteuning.”

You need to be Logged In to leave a comment.