’n Groen vraghouer in Onverwacht-straat in die Beverly Hills-woongebied, wat glo weke laas deur die Stad Kaapstad se kontrakteurs gediens is, het in ’n oogseer ontaard. Wonder bo wonder het die Subraad 8-voorsitter, Chantal Cerfontein, asook ’n paar helpers uit die gemeenskap, die gemors voor die vraghouer verlede Maandag (4 September) opgeruim. “Die gemeenskapshelpers het die rommel Maandag op ’n hoop gehark,” het Cerfontein vertel. Die skoonmaakaksie volg nadat inwoners die toestand van die groen rommel-vraghouer en die eiendom by die Stad aangemeld het, en nadat daar weke later nog geen aandag aan geskenk is nie, hulle na die koerant gewend het (“Vraghouer nou ’n ‘oogseer’,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 6 September).