‘n Tragedie het Vrydagoggend (29 Augustus) twee keer in Strand afgespeel nadat twee brande 30 minute uitmekaar die lewe van ‘n 39-jarige man in Weltevreden geëis en alles wat sy gesin sowel as ‘n Broadlandspark-gesin besit het, vernietig het.
Jermaine Carelse, ‘n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdiens, sê hulle is om 02:00 in kennis gestel van informele strukture wat in Webbstraat brand. Brandspanne van die Strand- en die
Sir Lowry’s Pass-brandweerstasie het op die toneel gereageer en die brand kort ná 03:00 geblus. Drie strukture is vernietig en vier mense is dakloos gelaat.
“Ongelukkig het ‘n volwasse man noodlottige brandwonde opgedoen terwyl ‘n volwasse vrou eerste- en tweedegraadse brandwonde opgedoen het,” het Carelse gesê.
Die vrou is op die toneel behandel voordat sy na ‘n nabygeleë hospitaal vir verdere mediese sorg vervoer is.
Die Strand-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen nadat beamptes die lyk van die 39-jarige man binne ‘n informele struktuur in Weltevreden gevind het.
In die tweede voorval in Boradlandspark, het polisielede ook ‘n 33-jarige man op aanklagte van brandstigting in hegtenis geneem.
Carelse sê brandbestryders van die Somerset-Wes- en Macassar-brandweerstasie het om 02:30 ‘n noodoproep oor ‘n huisbrand in Finkstraat reageer. Die spanne het daarin geslaag om die brand teen 04:15 te blus. ‘n Enkele informele struktuur is vernietig en nege mense is van hul tuiste ontneem. “Een vrou het aan ‘n gebrek aan asem gely en is op die toneel behandel,” het Carelse gesê.

Charmaine Meyer (49) se gesin het alles as gevolg van die brand in Broadlandspark verloor. Meyer sê sy het pas klaar televisie gekyk terwyl die hele huishouding geslaap het toe sy krakende geluide uit haar ma se kamer gehoor het. Toe sy die deur oopmaak, het sy vlamme in die kamer gesien.

“Ek was verward, maar het daarin geslaag om al nege lede van my gesin wakker te maak en hulle uit die huis uit te jaag,” sê sy. “Ons kon niks uit die huis red nie; ek kon gelukkig my gesin red.”
Die Meyer-gesin woon al 26 jaar in Finkstraat en hulle is verpletter deur die verlies van hul hele wêreld. “My hart breek vir my man, omdat hy hierdie huis met sy eie hande gebou het.”
Sy verduidelik dat haar kinders nou by familielede bly terwyl sy en haar man ‘n klein gedeelte van die huis, wat nie heeltemal vernietig is nie, bewoon.
Meyer het gevra dat die gemeenskap vir haar en haar gesin bid sodat hulle so gou as moontlik weer verenig kan word. Die gesin het baie hulpbronne nodig om weer op hul voete te kom.
Mense wat wil help, kan Meyer by 071 463 6180 of Zorah Motasi by 072 475 9084 bel.





You must be logged in to post a comment.