Hester Taljaard (71), koerante-afleweraar wat tragies oorlede is in Januarie
Hester Taljaard (71) se 22 jaar van getroue diens as koerante-afleweraar is tragies beëindig.

Ná 22 jaar van getroue koerante-aflewering in Strand en Somerset-Wes is Hester Taljaard (71) se lewe wreed verkort deur ‘n aanval wat haar gesin met gebroke harte agtergelaat het.

Hester Taljaard (71), koerante-afleweraar wat tragies oorlede is in Januarie
Hester Taljaard (71) se 22 jaar van getroue diens as koerante-afleweraar is tragies beëindig.

“My ma was my beste vriendin,” sê haar dogter Marlize Volschenk, wat nou sukkel om te verstaan hoe sy sonder haar ma se daaglikse ondersteuning sal aangaan. “Ek weet nie met wie ek nou my goeie tye gaan deel nie.”

Die voorval het Vrydag 2 Desember plaasgevind terwyl Taljaard besig was met haar gewone afleweringsroete in Broadway Square, Strand. Volgens sers. Mthokozisi Gama, ‘n woordvoerder vir die Lwandle-polisie, het twee mans haar voertuig genader terwyl die bestuurdersdeur effens oop was.

“Een van hulle het ‘n skerp voorwerp teen haar nek gedruk en haar aangerand,” sê Gama.

Die verdagtes het Taljaard se besittings geëis en haar voertuig se battery gebuit.

Haar man, Thys, sê die aanval was veel meer brutaal as wat amptelik beskryf word. “Sy het haar teengesit en die mans het gesien hulle sou nie die kar kry nie. Dis toe een van hulle haar aan die hare uit die kar geruk en op die teerpad neergegooi het,” vertel haar eggenoot.

Taljaard het haar dogter net ná die voorval gebel, wat haar op die toneel kom haal en huis toe geneem het. Sy het verlede Vrydag (9 Januarie) na die plaaslike Helderberg-hospitaal geneem nadat sy gekla het oor hoofpyn. Sy is toe na ‘n ander hospitaal vir verdere ondersoek oorgeplaas.

“Hulle het ‘n CT-skandering gedoen en toe vind hulle ‘n bloedmassa op haar brein,” vertel Thys. Taljaard is weer na die hospitaal in Somerset-Wes oorgeplaas, waar sy Sondag 11 Januarie dood is.

“Ek het Maandag 12 Januarie vier minute voor eenuur ‘n oproep van die hospitaal ontvang om my in te lig dat my vrou dood is,” sê Thys.

Familiefoto van die Taljaard-gesin: Jacques, Thys, Hester en Marlize Volschenk saam
Die Taljaard-gesin: Jacques, Thys, Hester en Marlize Volschenk. Die familie rou ná Hester se dood.

Die Taljaard-gesin is verpletter. Thys beskryf sy vrou as ‘n omgee-mens wat agteroor vir ander sou buig.

Die verlies tref Thys dubbel hard. “Ons sou op 17 April 50 jaar getroud gewees het. Ons is dus net drie maande kort.”

Die gesin sal Taljaard onthou vir haar liefde vir rugby; sy was ‘n “Cheetahs-meisie” aangesien sy oorspronklik van Bloemfontein is en die gesin in 1999 na Strand verhuis het. Die familie sê as sy rugby gekyk het, kon die hele buurt haar hoor.

Hulle sê Taljaard was ‘n geliefde mens – nie net vir intekenare van die koerante wat sy daagliks afgelewer het nie, maar vir almal wat op haar getroue diens staatgemaak het.

Die polisie ondersoek tans ‘n saak van roof met ‘n wapen anders as ‘n vuurwapen.

“Ons wag steeds op bevestiging van nuwe ontwikkelings in die voorval,” sê Gama.

Terwyl die ondersoek voortgaan, gaan die familie voort met begrafnisreëlings. Taljaard sal op Vrydag 16 Januarie om 10:00 by die NG kerk Strand-Noord in Brandstraat ter ruste gelê word.

*Nuwe besonderhede bygevoeg

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article