“Die dier is baie beter af by die Here.”
Só meen ‘n Strand-inwoner wat saam met gemeenskapslede en verteenwoordigers van die Helderberg-dierebeskermingsvereniging (DBV) by ‘n reddingspoging van ‘n hond wat na bewering in nood was, betrokke was.
Die voorval het die afgelope Saterdag (15 November) afgespeel nadat klagtes ontvang is oor ‘n hond wat aanhoudend tjank. Die hond is uit die omstandighede verwyder, maar moes weens haar toestand uiteindelik van kant gemaak word.
Volgens ‘n Strand Patrol-lid, wat vir die afgelope vyf jaar as patrolleerder dien, is inligting oor ‘n hond wat na bewering vir dae aanhoudend tjank, vroegmiddag deur bure op die buurtwag se dieregroep gedeel.
Foto’s toon die hond – vermoedelik ‘n Duitse Herdershond – in die Lochnerhof-woongebied. Hierdie beelde is op die groep gedeel.
Die lid het by ondersoek van die situasie hulp ontbied nadat hy nie self toegang tot die hond kon kry nie.
Intussen het die 55-jarige inwoner en haar dogter ook die inligting wat op die groep gedeel is, gelees en besluit om hulp aan te bied.
“Ons het beleefd by die huis aangeklop en onsself voorgestel as mense wat graag wou help. Die vrou van die huis het die deur oopgemaak en gesê sy sou haar man bel,”
vertel sy.
Die man het met sy aankoms glo verduidelik dat die hond op haar laaste was ná 14 jaar as geliefde vierpotige gesinslid, voeg die inwoner by. Hy het gesê hulle het op ‘n vorige geleentheid reeds self die DBV gekontak.
Julia Evans, die bestuurder van die Helderberg-DBV, het bevestig dat hulle kort ná 15:00 op die voorval reageer het. Die hond moes weens haar gesondheidsituasie van kant gemaak word.
“Ons moes die moeilike besluit neem om die dier se lyding te beëindig,”
het Evans gesê.
Sy wou vanweë die voortgaande ondersoek nie verder kommentaar lewer nie.
Belinda Abraham, ‘n woordvoerder van die Kaap die Goeie Hoop-DBV, het bevestig die saak is vir ondersoek aan hulle oorhandig.
“Enige verdere stappe sal deur die uitkoms van die ondersoek bepaal word,”
het Abraham gesê.


