’n Man wat in Macassar woon en in Somerset-Wes werk, het besluit hy gaan dit sy lewensdoel maak om kinders in die omgewing te wys ’n blink toekoms wag op hulle.
Jandré May, wat in Mosselbaai grootgeword het, was van jongs af by bendeverwante aktiwiteite betrokke en het met dwelms deurmekaargeraak voordat hy in George in die tronk beland het.
“Ek het agt jaar later uit die gevangenis gekom. Maar net voordat ek op 15 Augustus 2015 vrygelaat is, het ek my lewe aan die Here gegee,” vertel May.
Hy het in die gevangenis besluit hy wil iets doen om kinders se lewe te verbeter en “om die boompie te buig terwyl dit nog jonk is”.
“Ek het besluit ek wil my eie organisasie sonder winsoogmerk begin en alles wat ek deurgemaak het, in ons gemeenskap terugploeg, maar op ’n positiewe manier. Ek wil kinders en hul ouers bereik en my doel is om oor tien jaar takke oor die land heen te hê met rehabilitasiesentrums waar ek die ouers en kinders wil rehabiliteer en waar ek hulle met mekaar wil herenig.”
Hy wil na ondernemings uitreik om in sy organisasie te belê.
“Ons het in Desember ’n saamtrek vir 380 kinders by die Hoërskool Macassar gehou en hulle kos gegee en lekkergoedpakkies uitgedeel. Ons het toe vir elke kind ook ’n brood gegee om huis tow te neeme. Ek het toe besef hoe ’n groot nood in ons gemeenskap heers.”
Dit is juis waarom hy besluit het om die jongmense se omstandighede te verander deur sy organisasie, Reach out to the poor, op die been te bring.
“Ons is nog besig met die registrasieproses, maar sodra dit afgehandel is, wil ons na sakeondernemings uitreik om ons te help.
“Dit was in Desember ’n groot blydskap om te sien wat ’n bord kerrie en rys vir die kinders beteken het. Ons wou die kinders herinner dat hier mense is wat omgee.”
May wil Vrydag 3 Maart ’n soortgelyke dag by die Hoërskool Macassar hou, waar hulle speletjies vir die kinders sal aanbied en hulle weer iets te ete sal gee.
“Ek steek eers my hand in my eie sak voordat ek sakeondernemings vir ondersteuning vra. Vir Maart se dag gaan ek self vir die saal en die musiek betaal. Ons sal egter vir skenkings moet soek, want ons wil meer as 500 kinders na dié groot saamtrek nooi.”
May glo as hy een kind se lewe kan verander, sal hy sy doel in die lewe bereik.
“Die planne is klaar reg; dinge moet nou net begin gebeur. Ek wag net vir die naam om gefinaliseer te word voordat ons ’n Facebook-blad vir die organisasie open. Ons wil graag borge vra om ons te help met skoene en klere vir die kinders, want baie kinders se ouers het nie die geld om vir hulle iets so basies soos skoene en klere te koop nie.”
Hy vra moontlike borge om nou hande te neem en in die toekoms hom en sy organisasie te help om kinders se lewe te verbeter.
“Ek kan nie in mense se huise instap en my hand in my sak steek en vir hulle geld gee om te help nie, maar ek kan na mense uitreik deur byvoorbeeld hul mure te verf en dinge soos gloeilampe in hul huise reg te maak, want kinders is ons toekoms. Ek wil ’n impak in die kinders en hul ouers se lewe maak,” sluit hy af.
V
May vra sakeondernemings en mense met ’n oop hart om hom by 084 536 1393 te kontak indien hulle met borgskappe kan help of idees het om tot sy volgende dag wat hy vir kinders in die gemeenskap gaan hou, by te dra.