Die welbekende en geliefde Helderberg-inwoner Nonnie Briers, oftewel “Matron” soos haar vriende en geliefdes haar geken het, is in die ryk ouderdom van 92 oorlede.
Nonnie, wat op 10 Junie 1932 in Oudtshoorn gebore is, is Sondag 17 November aan natuurlike oorsaak in die Charles Morkel-siekeboeg van die Serenitas-aftreeoord oorlede.
Nonnie het op ’n plaas bekend as Kandelaarsrivier net buite Oudtshoorn grootgeword. Sy het drie susters en ’n broer gehad. Almal is reeds oorlede.
Nonnie was die tweede oudste kind.
Ná skool het sy haar opleiding in verpleegkunde aan die destydse hospitaal in Oudtshoorn voltooi. Daarna het sy verloskunde aan die Boksburg-Benoni-hospitaal gedoen. Ná haar studies het sy teruggekeer Oudtshoorn toe, waar sy haar loopbaan as suster begin het.
Vervolgens is sy na die Malmesbury- algemene hospitaal oorgeplaas. Dit is hier waar sy haar toekomstige man, Roelof Briers, ontmoet het. Hulle is in 1963 getroud.
Ná hul troue het die egpaar na Kaapstad verhuis, waar Nonnie by die Rondebosch-Cottage-hospitaal gewerk het. Hulle het uiteindelik na Strand verhuis. Sy het haar verpleegloopbaan by die Conradie-hospitaal voortgesit en haar laaste pos was as hoofmatrone by die Helderberg-hospitaal.
Nadat sy afgetree het, het sy liefdadigheidswerk gedoen as voorsitter van Project Daphne, ’n organisasie sonder winsoogmerk, wat hulp aan gestremdes bied en hulle na afsprake vervoer. Sy het ook op verskeie rade gedien.
Sy het die afgelope paar jaar in die Serenitas-aftreeoord gewoon, waar sy in haar eie huis was, maar ná ’n beroerte na die siekeboeg verskuif moes word.
Sy het goed herstel na ’n armfraktuur en ’n jaar later ook ’n bekkenfraktuur.
Sy is onlangs weens diep-aar-trombose in die hospitaal opgeneem, maar haar gesondheid het daarna begin verswak.
Nonnie was baie lief vir mense en ’n rolmodel vir vele, insluitend familie en verpleegsters. Sy was ’n perfeksionis en ’n mens kon haar altyd deur ’n ring trek. Sy was ’n gelowige en toegewyde Christen en het na ’n beter bestemming verhuis. Die familie sal haar spontane glimlag baie mis, maar sal vashou aan die mooi herinneringe en die voorbeeld wat sy altyd vir almal was.