Inspireer met positiewe uitkyk

Anthony September se positiewe uitkyk op die lewe is aansteeklik. Anthony woon in Grabouw, waar hy sy eie lewensafrigting-onderneming, AWS Inspiration, bedryf.


Anthony September se positiewe uitkyk op die lewe is aansteeklik.

Anthony woon in Grabouw, waar hy sy eie lewensafrigting-onderneming, AWS Inspiration, bedryf.

“Ek is meer as net ‘n lewensafrigter; ek is ook ‘n fasiliteerder, ‘n skrywer en ek hou motiveringspraatjies. Verder doen ek inspirerende programme by skole en organisasies om mense ‘n vars uitkyk op die lewe te gee en hul uitdagings deur middel van lewensafrigting uit te skakel,” vertel hy.

Met sy kalmerende stem, fyn sin vir humor en liefde vir mense het ‘n plaaslike radiostasie hom opge-

raap en hy het vyf jaar daar gewerk. “Die ervaring het my ‘n hupstoot gegee. Dit het my gehelp om met groter groepe mense te praat.”

Volgens Anthony sou hy nie mense kon inspireer of help as dit nie vir sy Christenskap was nie. “My geloof in God dra groot krag in my lewe. Die feit dat Jesus vir my gesterf het, is iets wat ek nie verdien nie, maar uit genade ontvang het. Daar was tye in my lewe toe dinge meer as donker gelyk het. Ek het gesukkel met my gesondheid. Ek het baie jare van my lewe en die vermoë om te lees en skryf verloor, en in ‘n kwessie van drie jaar twee keer TB opgedoen.

“Ek het weer geleer lees en skryf, die bul by die horings gepak en verder studeer. Ek het as skoonmaker by ‘n skool se voedingskema gewerk en toe as klasassistent. Nadat ek my studies as ‘n lewensafrigter en fasiliteerder voltooi het, het ek my passie om mense te help en te ontwikkel, begin uitleef. Die Here het my in al Sy glorie genees en gerestoureer; daarvoor is ek oneindig dankbaar.”

Een van die hoogtepunte in sy lewe was toe hy in 2019 sy eerste boek, Inspiration to Construct the New You, bekendgestel het. “Om daardie eerste boek in jou hande te hou, is ‘n onbeskryflike gevoel. Die boek is ‘n handleiding om jou gereed te kry vir die lewe na sukses en bevat riglyne oor wat jy moet doen.”

Anthony het al geleer dat die enigste ding wat jou beperk in die lewe dit is wat jy vir jouself stel. “Moet nooit vaskyk teen dit wat jou wil onderkry nie; dit is jou verantwoordelikheid om sukses na te jaag,” bemoedig hy.

Hy sluit af: “Bou altyd ‘n brug oor jou probleme. Niks is onmoontlik nie.”

Enigeen wat Anthony vir ‘n motiveringspraatjie wil kontak, kan hom by 081  249 1347 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.