Die City of Light-projek 1, ’n organisasie sonder winsoogmerk in Rusthof, se gemeenskapsgedrewe Youth in Place-program, het onlangs sertifikate aan jeugdiges, wat die program ’n jaar lank getrou bygewoon het, oorhandig. Die oorhandigingseremonies is op onderskeidelik Sondag 1, Maandag 2 en Woensdag 4 Oktober in Broadlandspark, Rusthof en Morkel Cottage gehou – die gebiede waar die jeugdiges vandaan kom. Dans- en sang-items asook motiveringstoesprake deur jongelinge, wat die program suksesvol voltooi het, is op die seremonie gedeel. Die program, wat jeugontwikkeling, “Ken jou identiteit”, anti-dwelmmisbruik en anti-bendebedrywighede insluit, het groot verandering in jongmense se lewe gebring, sê Samuel Simons, die voorsitter van die projek. Kinders wat die program bygewoon het, het sertifikate ontvang. Jeugkampe wat deel van die program is, word op onderskeidelik Vrydag 24 tot Sondag 26 November en Vrydag 1 tot Sondag 3 Desember gehou. Sakeondernemings wat die jeugkampe wil borg, kan die City of Light-projek 1 by 072 937 6768 skakel.