Die Strand-boorling Brandon Olckers, wat as sjef in Amerika gewerk het, is Dinsdag 21 Junie in die ouderdom van 29 jaar in die Verenigde State van Amerika oorlede. Olckers se ontydige heengaan volg ná ’n kort siekte. Volgens sy neef, Beagan Jantjies, het Olckers by ’n hotel in Colorado gewerk. Jantjies sê sy ouers, Cornelius en Maria, het reeds na Amerika gevlieg om sy verassing te reël en sal met sy as terugkeer. Hy het Olckers beskryf as ’n geliefde vriend en ’n ywerige sjef wat sy passie vir kosmaak die afgelope twee jaar oorsee uitgeleef het. Olckers het hom voor sy groot deurbraak in die land van drome aan NH The Lord Charles-hotel in Somerset-Wes toegewy. Jantjies het namens die familie hul dankbaarheid vir al die gewaardeerde medelye en boodskappe van simpatie uitgespreek. Benewens sy ouers word Olckers deur ’n jonger broer oorleef. Reëlings vir ’n roudiens word nog getref.


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article