Die Blitsbokke op die Kaapstad- internasionale lughawe voor hul vertrek na Perth.

Credit: SYSTEM

Die Blitsbokke speel dié naweek in die derde sewestoernooi uit agt in die HSBC-sewesreeks in Perth, en twee spelers maak hul buiging vir Suid-Afrika. Tristan Leyds van Strand en David Brits van Oos-Londen en voorheen van die Cheetahs, is die twee nuwelinge.

Albei is al sedert verlede jaar deel van die groep, maar is nie gekies vir die eerste twee toernooie in Doebai en Kaapstad nie. Leyds is ná byna ’n jaar uit rugby opgeroep en moes hard werk om te wys dat hy ’n plek as Blitsbok waardig is. Brits het sommer met die intrapslag in Stellenbosch sy rib beseer en moes alles van die kantlyn af dophou. Om te sê dat albei opgewonde is om in Australië te gaan speel, beskryf nie eintlik hoe hulle voel nie.

“Ek sal net my beste gee en dit wat ons die afgelope twee weke geoefen het, op die veld toepas. Die kort rustyd oor die feestyd was net wat die groep nodig gehad het om te hergroepeer en op die toernooi in Perth te fokus. Om te dink ek het al die tyd net my spanmaats op televisie gesien, maar nou het ek die kans ons land saam met hulle te verteenwoordig,” sê Leyds.

Die gemeenskap van Strand het hom sukses toegewens, want hy is die nuutste rugbyspeler naas Damian Willemse wat die naam van die Helderberg-kom op internasionale vlak hoog gaan hou.

“Nie almal is bevoorreg om hul land in enige sport te verteenwoordig nie en ek gryp nou die kans met albei hande aan. Ek wil nie net die span trots maak nie, maar ook almal van die UWK tot die gemeenskap van Strand bedank omdat hulle in my geglo het en nou ook saam met my op die veld gaan draf. Hopelik maak ons die land trots,” sê hy.

Brits gaan ook net sy beste gee, want hy is uitgehonger om die wêreld te wys dat hy oor al die eienskappe en vaardighede beskik om ook in 7’s naam te maak.

“Ek speel senter in 15’s, maar is die haker in die 7’s-span in Perth. My vaardighede as ’n senter sal nou help dat ek met my spoed ook ’n bydrae te kan lewer, hoewel ek nou nie in dieselfde asem as Selvyn Davids (kaptein) of Ronald Brown genoem kan word nie. Maar elkeen van ons weet wat van ons verwag word, want ons het die afgelope twee weke deur al die scenarios gewerk. Maar almal weet mos, die hop van die bal en ’n blaps van jou kant kan jou span die wedstryd kos,” sê hy.

Die ander spelers wat ook die naweek die eerste keer aan ’n HSBC-toernooi deelneem, is James Murphy, Donovan Don en Ricardo (Tricky Ricky) Duarttee.

Dit is die derde toernooi uit agt toernooie van die HSBC-Sewesreeks, met die toernooie in Doebai en Kaapstad wat reeds afgehandel is. Die Blitsbokke het die Doebai-toernooi gewen, en Argentinië die Kaapstad-toernooi. Die druk is nou op Australië om in Perth te wen, maar die geskiedenis wys enige span kan op die dag met die beker huis toe gaan.

Die trotse ouers Gershwin en Erica Leyds van Strand het hul seun Tristan Saterdag (20 Januarie) by die Kaapstad-lughawe gaan afsien en hom en die res van die span voorspoed toegewens.

You need to be Logged In to leave a comment.