Teen die agtergrond van Outisme-bewusmakings- maand (April) moedig ‘n ma van Strand ouers van kinders op die outisme-spektrum aan om onvermoeid vir hul opvoeding te veg.
Megan Meyer se oudste seun, Reece (13), is een van 0,08% Suid-Afrikaaners op die outismespektrum. Dit is op sesjarige ouderdom by hom gediagnoseer.
Meyer herroep dat Reece as babatjie onverklaarbaar baie gehuil het en boonop baie sensitief vir lig was. Hoewel Reece feitlik al sy ontwikkelingsmylpale bereik het, kon hy op 18 maande nie praat nie. Meyer en haar man, Renaldo, het toe hul seun na ‘n spraakterapeut geneem, wat ‘n ontwikkelings-vertraging by Reece gediagnoseer het. Ondanks twee jaar se terapie by verskillende spraakterapeute was daar geen sukses nie.
“Almal het net gesê dit is ‘n ontwikkelingsvertraging en aanbeveel dat ons sonder ‘n diagnose moet leef,”
Megan Meyer, Reece se ma.
Ná jare se toetse het ‘n pediatriese neuroloog uiteindelik outisme en spraakapraksie by Reece gediagnoseer. Om sy kommunikasievaardighede te bevorder, het hy en sy ouers Makaton-gebaretaal geleer en gebruik.

Volgens ‘n plaaslike spraakterapeut, Elaine Brink, is Makaton-gebaretaal een van die kommunikasieprogramme wat diegene met aspraksie gebruik om te kommunikeer.
Sy verduidelik apraksie is ‘n motoriese afwyking wat die beplande beweging van spraak beïnvloed. Volgens Brink bly die taalbegrip van mense met die toestand ongeskonde, maar dit is byna asof hul brein en mond nie met mekaar verbind is nie.
Druk op ouers
“In ernstige gevalle kan ‘n kind voorkom as nie-verbaal, aangesien selfs die ‘vervaardiging’ van enkele spraakklanke ‘n uitdaging kan wees,” verduidelik Brink, ‘n werknemer by die Et al Terapie-sentrum in Somerset-Wes.
Brink verduidelik voorts dat Makaton nie spraak vervang nie, maar wel kommunikasie met die gebruik van tekens, simbole en spraak met taalreëls en grammatika ondersteun en versterk.
Meyer se onverpoosde soektog na ‘n diagnose het besondere betekenis gekry toe haar seun sy skoolloopbaan moes begin, aangesien ‘n diagnose ‘n voor- vereiste vir toelating tot spesiale onderwysinstellings is.
“Jy het hierdie druk op jou as ‘n ouer, want almal vra ‘na watter soort skool gaan hy?’ Daar is steeds hierdie stigma rondom kinders wat skole met spesiale onderwysbehoeftes bywoon.”
Danksy Reece se diagnose in 2018 is hy by Rusthof Olso vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes (LSOB) aanvaar. Dié Strandse skool is ‘n Wes-Kaapse onderwysdepartement- LSOB-skool in die Helderberg-kom. Hierbenewens is daar ook drie onafhanklike LSOB-skole in Somerset-Wes, naamlik Audas Huis Remediërende Skool, Gloria Botha en Die Dreamtree Skool.
Volgens die WKOD-woordvoerder Millicent Merton bied die departement verskillende ondersteuning aan leerders op die outismespektrum. Daar is drie vlakke om te bepaal hoe-veel ondersteuning die leerder benodig en dit volg die outismespektrumversteuring-kategorieë wat op die erns van die leerder se simptome gegrond is.
Vlak-1, wat soms “hoë-funksionerende outisme” genoem word, is vir leerders wat hulp benodig met sosiale vaardig- hede, organisasie en beplanning. Op hierdie vlak word ‘n openbare gewone of voldiensskool met ondersteuning aanbeveel en leerders word blootgestel aan die kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV). Die tweede vlak is vir leerders wat aansienlike ondersteuning benodig. Leerders wat op dié vlak ingedeel is, het probleme met verbale kommunikasie, herhalende gedrag en het beperkte belangstellings.
‘hulle is intelligente kinders’
‘n Voldiensskool, waar leerders ondersteuning kry, of ‘n aanbevole openbare spesiale skool, sal die leerders blootstel aan die KABV of die tegniese beroepskurrikulum soos deur vaardigheidskole geadministreer. Vlak-3 is vir leerders wat baie ondersteuning nodig het. Soms word hulle beskou as leerders met “ernstige outisme” as gevolg van kommunikasieprobleme.
“Die doel is om leerders met gestremdhede in hul gemeenskappe te integreer, eerder as om hulle te segregeer,” verduidelik Merton.
By Rusthof Olso volg Reece ‘n geïndividualiseerde opvoedkundige ondersteuningsplan wat lewensvaardighede, motoriese en sensoriese ontwikkeling, kommunikasie, taal, geletterdheid en wiskunde insluit.
“Ons hooffokus is dat ons kinders onafhanklik in hul toekomstige lewens moet wees,” sê Tania Louw, waarnemende departementshoof by die skool se outisme-eenheid.

Reece is die afgelope sewe jaar by die skool en hy floreer. Dit wys ook by die huis. Volgens Meyer is hy ‘n goeie ouboet vir sy sussie (11) en boetie (9). Die 13-jarige se toekoms lyk blink. Hy droom daarvan om eendag ‘n renjaer of ‘n Springbok te word, net soos sy held, Siya Kolisi.
Om sy drome te help bewaarheid, gee Meyer haar onwrikbare ondersteuning vir haar seun se broodnodige opvoeding – iets wat sy ander ouers van kinders op die outismespektrum aanspoor om te prioritiseer.
“Moet nie aanneem dat kinders met outisme dom is nie – hulle is baie intelligente mense; hulle het net spesiale behoeftes,
het Reece Meyer se Ma, Megan, gesê
Anna-Beth Aylward, die waarnemende hoofbestuurder en opleidingskoördineerder van Outisme Wes-Kaap, definieer die outismespektrumversteuring as ‘n komplekse neuro-ontwikkelingstoestand wat individue op verskeie en verskillende maniere raak.
“Wanneer jy een mens met outisme ontmoet het, het jy een mens met outisme ontmoet,”
sê Aylward, wat 34 jaar se ondervinding as ‘n arbeidsterapeut agter die blad het.
Sy beklemtoon dat elke mens met outisme van ander sal verskil. “Mense moet nooit aanneem as jy iemand ontmoet het wat sekere simptome vertoon, alle mense met outisme voortaan dieselfde sal wees nie,” sê Aylward.
You must be logged in to post a comment.