Ons almal se geliefde Liewe Heksie is terug! Dié keer span sy haar besem as ’n visstok in, maar dit sukkel maar om ’n vis te laat byt. Sy raak vreeslik opgewonde as sy wel daarin slaag: “Haai, oe, dis vir my so lekker as ek ’n vis vang. Dan sing ek sommer ’n liedjie en die vis wil saam sing. Ek weet, want sy bek gaan so oop en toe. Of dalk gaap hy, omdat hy moeg is, dan gooi ek hom terug en vang ’n nuwe ene.” Maar hoekom raak Koning Rosekrans se forelle dan minder? Is Levinia die skuldige of is die nare Geelheks ook weer in die prentjie? Liewe Heksie het julle hulp dringend nodig. Verna Vels se immergroen verhale kry lewe met baie gehoordeelname en voortsnellende aksie. Margit Meyer-Rödenbeck is die nimlike Heksie en die uiters talentvolle Deon van Zyl draf die rolle van Karel Kat, die Geelheks en Koning Rosekrans lag-lag kaf. Dieselfde span het die ABSA-KKNK-Kanna-prys in 2022 vir die beste kinderteater ontvang en is in 2023 vir ’n Fleur du Cap-toekenning benoem. Die tydlose Liewe Heksie is perfekte vermaak vir die hele gesin en is Saterdag 3 Junie by The Drama Factory in Strand om 10:00 en 12:00 te sien. Vir meer inligting of besprekings, besoek www.thedramafactory.co.za.


You need to be Logged In to leave a comment.