Owerhede op die toneel waar die liggaam van ’n man Sondagmiddag (24 November) op sy verjaardag ontdek is. Foto: Ricardo Absalon


Die Macassar-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat die liggaam van ’n man in die gemeenskap gevind is.

Die gruvonds is Sondagmiddag (24 November) in ’n bebosde gebied langs Macassar-weg deur gemeenskapslede gemaak.

Volgens ’n polisiewoordvoerder het ’n lid van die publiek omstreeks 16:30 die polisie gebel en na die toneel oorkant die A-woonstelblokke ontbied.

“Met die polisie se aankoms het lede van die publiek die liggaam uitgewys. In ’n poging om te help, het hulle reeds die man, wat met ’n tou aan ’n boom gehang het, losgemaak,” het die polisiewoordvoerder gesê.

Volgens Ricardo Absalon, die projekkoördineerder vir die Macassar-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het hy op die voorval gereageer nadat nuus van die gruvonds op die GPF se WhatsApp-groep gedeel is. Absalon sê hy het ’n skare omstanders en die polisie op die toneel aangetref, en die liggaam is uit die bosagtige omgewing gebring.

“Die voorval is tragies,” sê Absalon. “As gemeenskap moet ons meer aandag skenk en uitreik na jeugdige mans wat benewens lewensuitdagings moontlik met trots sukkel, wat hulle verhoed om uit te praat oor hul geestesgesondheid of wat ook al kwel.”

Getuies beweer die oorledene, wat op dié noodlottige dag sy 33ste verjaardag gevier het, is blykbaar deur sy vriendin die laaste keer lewend gesien voordat sy vir hom ’n koek gaan koop het en na die tragiese werklikheid teruggekeer het.

You need to be Logged In to leave a comment.