Sersant Joe van Wyk, ’n speurder van die Macassar-polisie, is verlede Woensdag (2 November) met ’n toekenning vir uitnemendheid vereer nadat sy toegewyde en deeglike ondersoekwerk ’n moordbeskuldigde aan die pen laat ry het. Enrico Tandy (30) is verlede maand weens die moord op Adam Sitira skuldig bevind en gevonnis. Die vonnisoplegging volg op Tandy se inhegtenisneming ná die moord op 12 Februarie 2018 omstreeks 16:00 in Hide-straat, Macassar. Die moord spruit uit ’n stryery tussen Tandy en die oorledene, wat met ’n mes in die rug gesteek is en aan sy wonde beswyk het. Tandy is Vrydag 21 Oktober in die Somerset-Wes-streekhof aan die moord skuldig bevind en tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan vier jaar vir vyf jaar opgeskort is. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.