Die flink optrede van ’n private veiligheidsmaatskappy asook die polisie het daartoe gelei dat ’n dief wat by ’n Strand-onderneming ingebreek het, vinnig vasgetrek is en die meeste van die gebuite goedere terugbesorg is.
Die sukses volg nadat ’n man verlede Vrydagoggend (12 Augustus) omstreeks 03:30 by Vulcan Heat Studio op die hoek van Hoofweg en Rankinestraat ingebreek het. Die eienaar, Wayne Gouws, sê hy is verras deur die vinnige reaksie van die Gordonsbaai-sekuriteit (GBSek.) en beamptes van die Strand-polisie nadat die alarm geaktiveer is.
Volgens Gouws het die inbreker by ’n sydeur toegang verkry en danksy die beamptes se vinnige optrede slegs ’n kredietkaartmasjien, rekenaar-sleutelbord en USB- docking station gebuit. Alles behalwe die USB-toestel is teruggekry.
Die Strand-polisie het bevestig ’n klagte van inbraak word ondersoek.
Die verdagte, ’n 30-jarige man, het Maandagoggend (15 Augustus) op aanklag van besit van vermoedelike gesteelde eiendom in die Strand-landdroshof verskyn. Die verdagte word ook met twee ander sake van diefstal in die nywerheidsgebied verbind.. Die Strand-polisie ondersoek ook ’n saak van moord nadat ’n 36-jarige man glo in ’n rooftog by ’n huis deur ’n rower doodgesteek is. Dié voorval was Maandag (15 Augustus) om 03:35 by ’n woning in Brewerystraat toe die slagoffer die rower betrap het en in ’n poging om sy gesin te beskerm, doodgesteek is. Die polisie is op soek na drie wat by die voorval betrokke was en ’n TV-stel gesteel het.

