Mark Zandberg van Somerset-Wes het Suid-Afrika van Woensdag 17 tot Saterdag 20 Augustus by die 2022 IMMAF MMA-jeugwêreldkampioenskap in Abu Dhabi verteenwoordig.

Die 16-jarige vegter het byna twee jaar gelede met die sport begin toe hy sy klub, Vector MMA en Fitness in Stellenbosch, uitgesoek het.

Dié gr. 11-leerder aan Paul Roos Gimnasium het die Westelike Provinsie-span aan die begin van die jaar onder die leiding en aanmoediging van sy afrigter, Erik Coetzee, gehaal. Hy het as lid van dié span ’n goue medalje en die titel as Suid-Afrikaanse o.18-weltergewigkampioen in die nasionale kampioenskap in Mei in Gauteng verower.

Mark is in Julie in die Protea-MMA-span ingesluit om SA teen die wêreld se beste vegters te verteenwoordig. Hy het sy eerste geveg by die wêreldkampioenskap teen Siim Viljus van Estland gewen, maar sy deelname is as gevolg van ontwatering in sy tweede geveg teen Christian Alexis Cruz Macias van Mexico kortgeknip.

Mark en sy 19 spanmaats het teen altesaam 486 vegters van 41 lande meegeding en Suid-Afrika negende op die wêreldranglys geplaas.

Hy is nou meer vasbeslote, gemotiveerd en reeds besig met voorbereiding om aanstaande jaar na die wêreldkampioenskap terug te keer om goud vir Suid-Afrika te verwerf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article