Kabeldiewe het verlede Dinsdag (21 November) in die vroeë oggendure ’n stuk kabel op die hoek van 9de Straat en Broadlandspad in Rusthof gesteel.
’n Kragboks het kort hierna in vlamme uitgebars en gedeeltes van die woonbuurt was vir ure sonder krag.
’n Vrou wat in die omgewing woon en wie se kind die boks sien brand het, beskryf die ontploffing – nadat die kabels gesteel is en voordat die brand ontstaan het – as iets wat geklink het “soos ’n bom wat afgegaan het”.
’n Video is op sosiale media gedeel van die boks wat aan die brand was. DistriksPos & Helderberg Gazette het die plek waar die boks gebrand het, twee dae ná die voorval besoek, maar die Stad Kaapstad het dit voor dié koerant besoek al met ’n nuwe kragboks vervang.
AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig voorvalle van kabeldiefstal kom al meer en meer voor met gevalle wat in die laaste paar weke in De Kockstraat naby aan 10de Straat asook in Oosterligstraat en op die hoek van 14de en 12de Straat plaasgevind het.
“Baie klagtes word aangemeld, maar sake word nie noodwendig geopen nie. Ons moedig die publiek aan om kabeldiefstalverwante sake aan te meld, want dit is vernietiging van infrastruktuur en veroorsaak langdurige kragonderbrekings, wat veral snags veiligheidsrisiko’s veroorsaak,” sê Beukes.
Beverley van Reenen, die burgemeesterskomiteelid vir energie, doen ’n beroep op die publiek om te help om dié soort kabeldiefstal en die “vandalisering” van die Stad se infrastruktuur te help stopsit deur dit by die polisie aan te meld, of deur die Stad Kaapstad se blitslyn 080 011 0077 te skakel.
“Die tempo waarteen die infrastruktuur gevandaliseer word, het die laaste paar maande dramaties verhoog. Die het veroorsaak dat die Stad se omkeertyd langer is wanneer dit by die vervanging van infrastruktuur en die herstel van krag kom,” verduidelik Van Reenen.


