‘n Donker wolk hang oor ‘n Strand-gemeenskap ná die verlies van twee jong mans wat wreed van die lewe ontneem is.
Die Strand-polisie se moordondersoek duur voort nadat Ryan Liebenberg (35) en Shuwinn October (29) verlede Donderdag (3 April) vermoor is.
DistriksPos & Helderberg Gazette het kort ná die voorval op sy aanlyn platform oor die moorde berig, maar die slagoffers was toe nog nie geïdentifiseer nie (“Skietvoorval in Strand eis twee onbekende mans,” 3 April).
Die slagoffers is intussen nie net formeel uitgeken nie, maar die bewering dat die noodlottige skietvoorval dalk bendeverwant is, is deur die owerhede uitgesluit.
Volgens die polisie is die gruvonds Donderdaggoggend omstreeks 01:15 in Serkorpark gemaak toe ‘n beampte op patrollie op ‘n klagte reageer het.
Inligting wat deur gemeenskapslede ontvang is, het die beampte na ‘n woning in Adelastraat gelei. Met sy aankoms het hy die liggame van die slagoffers – waar hulle in ‘n plas van hul eie bloed in die straat gelê het – ontdek. Die beampte het ook beslag gelê op vyf patroondoppies op die toneel.
Volgens AO Nico Beukes, ‘n woordvoerder vir die Strand-polisie, was die slagoffers se identiteit steeds onbekend totdat hul naasbestaandes van die verlies gehoor het en die slagoffers later dieselfde dag deur middel van beskrywings, foto’s en kenmerkende tatoes uitgeken is.
“Ons kan bevestig dat die voorval nie bendeverwant is nie,” het Beukes gesê. “Die verdagtes is steeds soek.”
Nadat die nuus van die skietmoord bekend geword het, het talle gemeenskapslede hul medelye met die bedroefde families op sosiale media uitgespreek.
Brent Louis, ‘n woordvoeder vir die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het in ‘n Facebook-inskrywing gedeel: “Namens die Strand-GPF wil ons ons innige meegevoel met die families en geliefdes wat deur hierdie tragedie geraak is, deel.
“Die tragiese dubbele verlies van twee jong mans in die fleur van hul lewe het ons as ‘n gemeenskap geruk,”
Brent Louis, Strand-GPF se openbare betrekkinge beampte
Hy het voorts gesê ‘n groot behoefte bestaan in die gemeenskap om misdaad in die gebied te bekamp en die GPF werk daaraan om hulpbronne na die gemeenskap te bring.
• Enigeen met nog inligting oor die voorval kan die Strand-polisiekantoor by 021 854 9100 of 082 850 9628 skakel.