Die Strand het weer soos amper ’n jaar gelede ’n hawe geraak vir motordiewe en ’n verskeidenheid fabrikate is die afgelope ruk in die gebied gesteel met net ’n paar van die voertuie wat weer gevind is.
Die diefstal van motors in veral Strand het in Februarie verlede jaar aansienlik gestyg. Dit was nie net diefstal van motors nie, maar ook diefstal uit motors, wat vir die polisie van kommer was.
Volgens die Strand-polisie was die probleemgebiede in Kusweg en aangrensende strate (“Diefstal uit en van motors styg,” Netwerk24, 13 Februarie 2023).
Dit kom voor of dieselfde neiging homself weer afspeel, aangesien die diefstal van motors asook diefstalle uit motors weer in die kollig is.
Die probleemgebied is weer eens Kusweg in Strand.
Vanjaar is Faure Marine-rylaan ook op die lys van die plekke waar voertuie gereeld gesteel word.
KC Gericke, die veiligheidsvoorsitter van die AfriForum Strand Patrol-buurtwag, het na DistriksPos & Helderberg Gazette uitgereik en verduidelik van die begin van die jaar af tot nou is ’n verskeidenheid voertuie in Kusweg gesteel, waaronder ’n Ford Fiesta, ’n Toyota Hilux, ’n Nissan X-Trail, ’n Volkswagen Tiguan, ’n Ford Ranger, ’n Toyota Fortuner, ’n Toyota Yaris asook ’n motorfiets.
“In die verlede is net sekere handelsmerke gesteel, maar deesdae steel die diewe alle fabrikate. Van die slagoffers het gaan branderplank ry en dan sit hulle hul besittings in boksies onder die voertuig. Dit lyk asof die motordiewe eers die sluitsein blokkeer en die voertuie steel en dan later eers die boksies oopbreek en die bankkaarte en selfone uithaal,” sê Gericke.
Hy sê een van die slagoffers het nadat sy voertuig gesteel is, ’n kennisgewing van sy bank af ontvang nadat die boewe glo honderde rande se drank met sy bankkaart by ’n drankwinkel gaan koop het.
In Khayelitsha opgespoor
Een van die ander slagoffers het ook ’n kennisgewing ontvang dat die boewe met sy bankkaart by ’n drankwinkel drank probeer koop het, maar gelukkig is die kaart geweier.
Die Strand-buurtwag het Maandag 12 Februarie ’n voorval op sy sosialemediakanale gedeel oor ’n Ford Ranger wat in Kusweg gesteel is.
Die voertuig is gelukkig in Khayelitsha opgespoor. Dit nadat die diewe danksy die samewerking van die Strand-buurtwag, Gordonsbaai Sekuriteit en ander wetstoepassers, op heterdaad betrap is. Ongelukkig is geen verdagtes in verband met die voertuig, wat op Saterdag 10 Februarie gesteel is nie, vasgetrek nie.
Adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het ook bevestig die diefstal van voertuie het in Februarie toegeneem in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.
“Dit is veral duur sportnutsvoertuie en dubbelkajuitbakkies, Volkswagen Polo’s, Toyota Etios’e, Toyota Fortuners en Ford Rangers wat gesteel word.
“Dit is weer eens opportunistiese diefstalle en gebiede word geteiken waar straatligte nie werk nie of gebiede wat swak belig is,” voeg hy by.
Beurtkrag en nalatigheid van motoreienaars waar sleutels op sekere plekke weggesteek word, veroorsaak dat diewe maklik toegang tot die voertuie verkry en dra by tot die diefstalle,” sê Beukes.


