Die Glen Graze Animal Rescue Sanctuary in Somerset-Wes het onlangs ’n nuwe bemarkingsbeampte aangestel om sake te behartig namens die diere-reddingsoord.
Lizanda de Wet (55), wat tans as Glen Graze se bemarkingskoördineerder bekendstaan, is opgewonde om hierdie uitdaging te aanvaar.
“Wat Glen Graze Animal Rescue Sanctuary so uniek maak is dat ons een van die min dieresorgverenigings in die omgewing is wat ’n maatskappy sonder winsoogmerk asook ’n Public Benefit Organisation (PBO) is. Dit beteken as ’n individu of besigheid ’n donasie maak, dan ontvang hulle ’n 18A-sertifikaat wat hulle kan gebruik vir belastingsdoeleindes. Boonop het ons, ons eie inspekteur ook,” spog sy.
Suzanne Mostert, ’n inspekteur van Glen Graze Animal Rescue Sanctuary, is laasjaar ingehuldig as ’n inspekteur en sedertdien doen sy alles in haar vermoë om diere in die omgewing te help.
Maar dis waar al die sonskyn-en-rose-gevoelens eindig want Glen Graze het die publiek se hulp nodig. “Ons sit met 17 perde en talle ander diere wat gevoer en onderhou moet word. Dit kos baie geld. Byvoorbeeld een perd se voer kos omtrent so R2 500 per maand. Ons moet nog heelwat opknappingswerk ook doen by ons perseel in Heldervue, maar vir dit benodig ons geld. Ons vra die publiek om nie net hul hande nie maar ook hul harte oop te maak.”
De Wet, ’n nuwe intrekker in Gordonsbaai, is nie ’n liggewig nie en het meer as 25 jaar se ondervinding in die mediese bedryf en 13 jaar in verkope en sy het ook voorheen gewerk by ’n ander dierereddingsorganisasie.
“Sy kom uit ’n betroubare agtergrond en sy het besluit om terug te trek na die Helderberg toe nadat sy aansoek gedoen het vir die pos by ons en dit toe gekry het. Ons wens haar alle sterkte toe en ons hoop al haar drome word waar hier by Glen Graze,” sê Mostert.
Diere, kinders en bejaardes lê De Wet na aan die hart. “Ek wil nie net Glen Graze ’n beter plek maak nie, maar ek wil ook uitreik na bejaardes en kinders sodat hulle ook die liefde van diere kan ervaar. Om ’n babahondjie vas te hou kan beslis iets beteken vir ’n bejaarde persoon, wat alleen bly in ’n klein kamer in ’n ouetehuis en so af en toe sy of haar familie sien. Die liefde van ’n dier is nodig en dis iets wat ek meer en meer wil begin doen hier by Glen Graze. Ons wil ook uitreik na motorfietsklubs en hul uitnooi indien hulle ’n rally wil hou en op soek is na ’n organisasie om saam te werk.”
. Indien jy of jou besigheid vir Glen Graze wil help met geld of voer, kontak Lizanda de Wet by 083 445 4746.