Gemeenskapslede staan en kyk hoe ’n masjien die uitgebrande Suiderstrand-biblioteekgebou baksteen vir baksteen afbreek.Foto’s: Rick Marais


’n Baken van hoop is verlede jaar in ’n verwoestende brand in puin gelê toe dit amper tot op die grond afgebrand het. Net die mure het bly staan.

Afbreekwerk aan die Suiderstrand-biblioteek se gebou het Vrydag 7 Oktober begin om plek te maak vir ’n nuwe biblioteek wat weer as ’n baken van hoop sal dien.

Cheslynn Benn, ’n gemeenskapsaktivis wat deel was van die oorspronklike groep inwoners wat die laaste paar maande die stem dik maak oor die groot gaping wat agtergelaat is nadat die biblioteek in Februarie 2021 afgebrand het, is verheug om te sien dit wat van die biblioteek oorgebly het, is nou heeltemal plat.

Die 42-jarige biblioteek is weens brandstigting deur vlamme verswelg (“Geskiedenis, nie net boeke, vernietig,” DistriksPos 4 Maart 2021).

“Die afbreekwerk van die biblioteek getuig van wat eendrag en saamstaan kan vermag,” sê Benn.

“Ons gemeenskap is so verheug dat hulle in die toekoms weer ’n biblioteek van hul eie – ’n plek waar kinders kan groei en leer – gaan kry. Dit sal ook ’n plek wees waar ouer mense die internet en rekenaars kan gebruik.”

Hy meen die probleme in omliggende gebiede soos Broadlandspark en Gustrouw is aan die toeneem as gevolg van bendeverwante aktiwiteite en bendes wat jongmense “insluk”.

“Dis juis waarom die biblioteek so belangrik is, want dit gee ons jongmense toegang tot die internet en boeke wat hul toekoms kan verander.”

Chantel Cerfontein, die Wyk 85-raadslid en subraad 8-voorsitter, sê voordat die Suiderstrand-biblioteek afgebrand het, was dit ’n veilige hawe vir kinders van die gemeenskap.

“Dit is hartseer dat so ’n belangrike fasiliteit vir die gemeenskap afgebrand het, maar dis goeie nuus dat ons nou weet die biblioteek gaan afgebreek en herbou word. [Dit is] ’n proses wat die Stad Kaapstad altesaam agt maande geneem het,” voeg sy by.

Ruan Bouwer, die uitvoerende hoof van die Bouwcor-groep, sê dié maatskappy is deur die Stad Kaapstad aangestel om die oorblywende gebou af te breek.

Werkers van die maatskappy was Vrydag vroeg al besig om die bouterrein af te sper om te verseker dat niemand te naby aan die gebou en stootskrapers kan inkom nie.

Bouwcor is ’n week gegun om die afbreekwerk te doen, maar hulle het dit binne twee dae reggekry – hulle het die hele gebou afgebreek en Saterdag (8 Oktober) was die perseel heeltemal skoon van al die bourommel.

Patricia van der Ross, die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, het bevestig die Stad is besig met ’n konsepplan vir die nuwe biblioteek.

“Ek kan bevestig dat die nuwe biblioteek in die 2023-’24-boekjaar opgerig sal word en heel moontlik in 2025 voltooi sal wees,” sê Van der Ross.

Cerfontein sê die gemeen­skap sal, wanneer die biblio­teek voltooi is, dienste soos fotostate en drukwerk by die biblioteek kan doen en ook die internet-dienste vir skooltake kan gebruik. “Die gemeenskap gaan voorsien word van ’n groter, beter en ‘slimmer’ biblioteek,” sluit Cerfontein af.

You need to be Logged In to leave a comment.