Noodpersoneel op voorverlede Donderdag (9 Maart) se ongelukstoneel.

Jamey Gordon

“Dit was ’n groot skok en nie ’n lekker ding om te ervaar nie.”

Dít is die woorde van die middeljarige insittende van die bottelgroen Volkswagen Fox (Jetta MK1) wat voorverlede Donderdag (9 Maart) in ’n botsing in Gants-sentrum, Strand, beseer is.

DistriksPos & Helderberg Gazette het verlede week oor die voorval, waarin die vroulike slagoffer volgens paramedici op die ongelukstoneel vir rugpyn behandel is, berig (“Crash in Gerber Blvd,” 15 Maart). Die botsing het kort ná 08:00 in Gerber-boulevard gebeur en noodpersoneel, insluitend verkeer en die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, het op die voorval gereageer.

Nooddienspersoneel het bevestig dat hulle met hul aankoms twee voertuie – die Volkswagen en ’n wit Mazda-bakkie – op die toneel aangetref het. By nadere ondersoek het hulle die vrou in die ligte motorvoertuig aangetref. Sy is glo uit die voertuig gehaal, pynmedikasie gegee en later na ’n nabygeleë hospitaal vervoer.

Die koerant het vandeesweek op voorwaarde van anonimiteit met die slagoffer gesels. Dié 54-jarige van Strand is op die herstelpad nadat sy eintlik ’n fraktuur aan haar tibia (skeenbeen) opgedoen het. Boonop het ’n tand met die impak deur haar bolip gesny.

Sy het haar frustrasie uitgespreek oor die feit dat sy aanvanklik ná die ongeluk na die hospitaal vervoer is en deur mediese personeel meegedeel is dat niks gebreek is nie, maar toe met ’n opvolgbesoek aan ’n plaaslike kliniek hierdie Vrydag deur dokters van die fraktuur verwittig is. “Dit is teleurstellend en nog ’n verdere skok vir my, want ’n mens sou verwag ’n opgeleide dokter gaan presies kan sê wat fout is,” het die slagoffer, wat nou met ’n been in gips sit, gesê.

Nog meer verskil haar weergawe met dié van die bakkiebestuurder, wat ongedeerd van die botsing afgekom het. Die 44-jarige man het met navraag gesê hy het by die stopstraat in Mynhardtstraat gewag dat aankomende voertuie verbykom voordat hy regs in Gerber Boulevard gedraai het. Volgens hom het die bakkie teen die aankomende Volkswagen gebots, wat glo met ’n flikkerende aanwyser die voorneme om links in Mynhardtstraat te draai, aangedui het, maar eintlik reguit met Gerber-boulevard af gery het.

Volgens die slagoffer, wat daardie oggend voor werk iets te ete by die tuisnywerheid wou kry, is dit glo ’n wolhaarstorie, want haar voertuig se flikkerlig was glo nooit aan nie. Sy het verduidelik dat die flikkerlig van ’n voertuig wat voor haar in dieselfde rigting beweeg het, aan was. Volgens haar het die bakkie haar glo getref net toe die ander voertuig in Mynhardt-straat afgedraai en sy reguit aangery het.

Dié weergawe is deur ’n ooggetuie bevestig. Volgens die 46-jarige getuie was hy en sy drywer op pad uit vir werk toe die ongeluk voor hulle gebeur het. “Ons het in Gerber-boulevard stilgehou om by die vishandelaar links te draai. Die bakkiebestuurder, wat op sy selfoon was, het skielik weggeskiet en teen die kar gebots. Ek het dadelik uitgespring en na die beseerde insittende gejaag om seker te maak dat sy oukei is. Ek het aangebied om nooddienste te ontbied, maar sy wou eers haar man bel,” herroep die ooggetuie.

“Die motor se ignition was nog aan en geen flikkerlig was aan nie.”

Volgens die slagoffer onthou sy duidelik hoe die bakkie “uit die bloute, met ’n moerse spoed” teen haar gebots het.

“Ek kon die slag en soos ek eenkant toe geruk is, voel. Dis hoe my been en lip seergekry het,” het sy herroep.

“Ek het my agterwêreld afgeskrik en ek was so bitter kwaad vir die bakkie wat my getref het, want ek is baie bang vir motorongelukke.”

Volgens die slagoffer sukkel sy verskriklik om die trauma te verwerk – veral omdat sy al voorheen ’n ernstige ongeluk as kind oorleef het, asook haar kêrel van 20 jaar wat in Oktober een van sy twee seuns in ’n botsing verloor het. Dit is benewens die erge skade aan ’n motor wat haar kêrel met sy eie hande opgebou het en sy die afgelope 19 jaar met soveel liefde versorg.

“Maar ek is dankbaar dat ek nog lewe en dat dinge nie erger was nie,” het die slagoffer, wat tans op haar herstel fokus sodat sy kan terugkeer werk toe, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article