’n Bejaarde man het verlede Dinsdag (29 November) in Gerber-boulevard in Gants-sentrum, Strand, veroorsaak dat ’n klomp noodpersoneel en veiligheidsbeamptes kragte saamgesnoer het om hom te red.
Die 76-jarige man was glo buite sy voertuig toe dit begin loop en hy onder die voertuig beland het. Gelukkig vir hom was twee wakende engele naby (en nog vele op pad) om hom te red.
K.C. Gericke, die veiligheidsvoorsitter van Strand Patrol, vertel hy het ’n gloeilamp gaan koop en terwyl hy sy voertuig se deur oopgemaak het, het hy ’n harde kreun gehoor en gesien hoe die voertuig vanself stop.
“Ek het toe besef iemand het onder die kar beland. ’n Vrou wat langs my parkeer het, het ook uitgespring en na die motor gehardloop. Ek het die voertuig vorentoe gestoot en die vrou het gekyk of sy die oom onder die voertuig uit kan kry,” het Gericke gesê.
Hy het die voertuig ’n entjie gestoot en die vrou gevra of die man gaan seerkry as hy verder stoot.
“Sy het bevestig ek kan maar stoot. Ek het hard gedruk en sy voete en been is bevry. Sy het toe onder deur my beweeg en die voertuig se handrem opgetrek.”
Gericke het na sy bakkie gehardloop en hulp op die tweerigtingradio ontbied. Beamptes van AM Sekuriteit was eerste op die toneel, met nog van Vetus Schola Sekuriteit en Fidelity ADT kort op hul hakke. Vetus Schola se beamptes het ’n ambulans gewaar en dit voorgekeer en die paramedici van die voorval in kennis gestel.
Riaan Strydom, ’n paramedikus wat in basiese lewensondersteuning opgelei is, het gesê die man se voete het onder die motor op die grond geskuur, maar hy het bevestig die man is huis toe geneem na ’n ondersoek bevestig het dat hy geen verdere beserings opgedoen het nie.
Volgens Gericke het die voorval, wat omstreeks 11:15 voor ACDC se perseel plaasgevind het, weer bewys Strand se veiligheidsbeamptes en paramedici kan saamwerk. “Ek wil namens AfriForum Strand Patrol, alle samewerkende veiligheidsmaatskappye en paramedici bedank vir hul ongelooflike bystand. Ek het regtig lanklaas sulke ongelooflike samewerking gesien.”


