Meer as 80% van Suid-Afrikaanse gr. 4-leerders kan nie met begrip lees nie, en teen gr. 6 sukkel 70% steeds, volgens die Progress in International Reading Literacy Study (Pirls), ‘n internasionale studie wat elke vyf jaar gedoen word om geletterdheid te meet.

Wêreldonderwysersdag op Sondag 5 Oktober is ‘n ernstige wekroep aan die uitdagings in Suid-Afrika se onderwysstelsel, maar die Anna Foundation, ‘n organisasie sonder winsbejag in Raithby, werk daaraan om deel van die oplossing te wees.

Die stigting hits vroue van plattelandse gebiede deur sy 3R’s-program aan en lei hulle op om naskoolprojekte vir kinders aan te bied.

“Wanneer ‘n kind nie kan lees nie, is dit nie net hul opvoeding wat daaronder ly nie; deure gaan toe vir geleenthede en gemeenskappe oor Suid-Afrika heen sit met potensiaal wat nie bereik word nie,” sê Marike Pienaar, ‘n senior opvoedkundige projekbestuurder by die Anna Foundation.

Die organisasie is 20 jaar gelede in die lewe geroep om die onderwyskrisis in SA aan te durf en leerders op plase geleenthede vir onderwyssteun, sport en lewensvaardighede te bied. Altesaam 21 Anna Foundation-naskole bied elke dag ‘n veilige hawe vir meer as 800 kinders in die Wes-Kaap.

“Baie skole sukkel met onvoldoende infrastruktuur, wat tot groot klasse lei en doeltreffende onderrig en leer belemmer. Onderwysers dra dikwels swaar werklaste en het beperkte hulpbronne, wat die gehalte van onderrig beïnvloed,” sê Pienaar.

Die stigting lei plattelandse vroue as opvoeders op en stel hulle aan om vir kinders van landelike en plaasgemeenskappe ‘n veilige plek te gee om te leer, sport te beoefen en hul sosiale vaardighede te ontwikkel.

Vir die fasiliteerder Katy Booysen, wat die Neethlingshof-naskool al langer as 10 jaar lei, is die uitwerking duidelik. “Wanneer jy ‘n kind help en hulle verstaan uiteindelik, sien jy hoe hul hele gesig ophelder.”

Haar seun, Wesley, is ‘n bewys van die program se langtermyn-uitwerking. Hy was vroeër ‘n leerder by ‘n Anna Foundation-naskool in die Boland en werk nou vir die Stellenbosch brand- en reddingsdiens.

Fasiliteerders ontvang elke twee weke opleiding in die vier streke waarin Anna Foundation se naskole geleë is: Stellenbosch, Rawsonville, Elgin en Langeberg. Hierdie sessies berei hulle voor om lees, wiskunde, lewensvaardighede en sport op ‘n prettige manier aan te bied.

“Ek is nie baie goed met wiskunde nie, maar die speletjies maak dit vir my maklik om die kinders met wiskunde te help,” sê Ayola Noyakaza, ‘n naskoolfasiliteerder.

Die sportelement wat die Anna Foundation aanbied, maak ook nuwe wêrelde vir leerders oop. “Die Anna Foundation het vir my as kind die kans gegee om te reis en aan wedlope deel te neem, wat ek my nooit sou kon indink nie,” sê die 21-jarige Marius September.

Hy was self ‘n leerder en deelnemer aan die stigting se 3R’s-program. Vandag studeer hy regte deur Rosebank College en is hy ook ‘n fasiliteerder by die naskool waar hy as kind was.

September, wat deur sy ondervinding by die Anna Foundation geïnspireer is, beplan om onderwys te studeer nadat hy sy regtekwalifikasie voltooi het.

Deur in fasiliteerders soos Booysen, Noyakaza en September te belê, skep die stigting ‘n siklus van ondersteuning: kinders kry die aandag wat hulle nodig het en fasiliteerders bou waardevolle vaardighede.

Die Anna Foundation is afhanklik van skenkings om sy deure oop te hou. Om betrokke te raak of te skenk, stuur e-pos na [email protected] of besoek www.annafoundation.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article