Raadslid help verfraai

Dit verg net ‘n paar inwoners om ‘n verskil in die omgewing te maak. Dit is die afgelope tyd bewys toe die gestremde raadslid Denzil Jacobs van Grabouw ‘n verfraaiingsprojek in die dorp begin het.


Dit verg net ‘n paar inwoners om ‘n verskil in die omgewing te maak.

Dit is die afgelope tyd bewys toe die gestremde raadslid Denzil Jacobs van Grabouw ‘n verfraaiingsprojek in die dorp begin het.

“My wyk, wyk 11, lê my na aan die hart en ons gemeenskap is so na aan mekaar dat ek besluit het om die dorp te verfraai. Ek kan egter eerlik sê ek kan dit nie sonder die steun van die inwoners doen nie. Hulle staan my by en ons is ‘n baie hegte gemeenskap,” het Jacobs gesê.

Niks kry dié raadslid onder nie. Hy is in 2013 in sy huis aangeval en het byna sy lewe verloor, maar het opgestaan.

“Niemand het vir my hoop gehad nie en ek ‘n lang pad gestap. Al het ek die gebruik van my bene verloor, het ek my hoop in die Here en in Sy planne gehad. Hy het my hierdeur gehelp en vandag wil ek graag terugploeg in die gemeenskap,” het Jacobs gesê.

Een van die maniere waarop hy wil terugploeg, is om die dorp, wat so baie vir hom beteken, op te hef. “Ons het begin om die eiland by Ou Kaapseweg te verfraai en plante daar te plant. Ek sou dit nie sonder die span van Grow Strong reggekry het nie. Die inwoners van die aangrensende buurt het ook aangebied om die plante water te gee, maar verder maak ons staat op ‘genadewater van Bo’.”

Sy volgende projek was om die ingang van Grabouw, waar ‘n kruis staan, op te kikker. “Die kruis is onlangs afgesaag, maar pastoor Tsewu, wat elke oggend vir die dorp daar bid, het saam met ander godsdienstige leiers in die dorp weer ‘n kruis opgerig.

“En weer het Grow Strong ons gehelp om die plante rondom die kruis te plant.”

Volgens hom moet die inwoners maar almal ‘n ogie oor die plante hou aangesien baie rondloperdiere soos beeste en varke in die dorp kom. “Hulle kan nogal ‘n tuin verwoes en ons vra inwoners om ons oë en ore te wees sodat ons ons dorp mooi kan hou. As iemand die diere in die dorp sien, moet hulle so gou as moontlik die wetstoepassingsafdeling kontak sodat hulle die diere kan verwyder. Die nommer is 0800 214 730.”

Grow Strong is ‘n Christen-gegronde vaardigheid- en mentorprogram wat deur Mark en Brigit Oudejans bestuur word. “Ons het ‘n passie om tieners te help om nuwe vaardighede te leer en veral om hulle op die volwasse lewe voor te berei,” het Brigit gesê.

Die organisasie se doelwit is om veral tieners tussen 16 en 19 jaar oud te help. “Die ander vaardig-

heidskole is vol en het nie meer plek vir almal nie. Ons fokus op leerders wat nie hul akademiese skoolloopbaan kan voltooi nie.”

Hulle bied ook gereeld werksessies aan vir die tieners om hulle meer oor praktiese vaardighede te leer. Verder glo hulle daaraan om die jeugdiges se selfbeeld op te bou. Hulle werk nou saam met hul fasiliteerders en die onderwysdepartement om ‘n positiewe impak op tieners te hê.

“Grabouw met sy groot werkloosheidsyfer en mense wat van oral af hier kom woon, het nie genoeg skole nie en van die skole het tot 50 leerders in ‘n klas,” het sy aangevoer.

“Ons wil graag die leerders help wat nie die druk van die groot klasse kan hanteer nie en wat dan nie hul skoolloopbaan kan voltooi nie. Ons kan dit saam met die Wes-Kaapse onderwysdepartement doen en ons help om hierdie kinders ander vaardighede te leer.”

 Kry nog inligting oor Grow Strong by 074 158 9988 of 068 070 9340; of stuur ‘n e-pos na info@grow-strong.co.za.

Leerders van Grow Strong besig met die voorbereiding om die plante by die ingang van Grabouw te plant.

You need to be Logged In to leave a comment.