Neels du Toit het vandeesmaand die goue ouderdom van 80 behaal en die mylpaal met ’n groot byeenkoms by Helderberg-rugbyklub gevier. Bo saam met die verjaardagseun is Bokkie Carstens.


’n Baie bekende en groot gees in Helderberg-rugbykringe het vroeër vandeesmaand (Januarie) 80 kersies op sy verjaardagkoek uitgeblaas.

Die Van der Stel-pensioentrekker Neels du Toit het Sondag 8 Januarie verjaar en die goue ouderdom van 80 saam met geliefdes en vriende gevier. Dié toegewyde bestuurslid van Helderberg-rugbyklub en ywerige rugby-verslagskrywer, wie se naam oor die jare sinoniem geword het met dié van DistriksPos & Helderberg Gazette, is Sondag 17 Januarie met ’n spesiale viering by die klubhuis verras.

“Ek is dankbaar ek kon my groot passie – rugby en die rugbyklub se spelers, afrigters en bestuur – uitleef,” het Neels, wat ’n verjaardag met die gestorwe Amerikaanse koning van ruk-en-rol, Elvis Presley, deel, gesê.

Dié nederige legendariese rugbyentoesias is met die samekoms ter viering van sy verjaardag deur die klub erkenning gegee vir meer as 55 jaar ononderbroke diens in die senior bestuur en dat hy daagliks steeds sy passie en liefde vir die klub uitleef. “As keurder van WP-spanne deur baie jare lewer hy nie net bewys van sy kennis van die spel nie, maar in besonder sy belangstelling in honderde spelers se ontwikkeling en welstand oor meer as vyf dekades. Bekendes soos hierdie kom een keer in ’n leeftyd voor en sy tientalle erkennings as Esprit de Corps Admin getuig van puik dienslewering oor die dekades,” lui ’n gedenkplaat wat die klub aan hom geskenk het.

“Op gelyke datum vier ons sy 80ste verjaardag saam met hom en ons gebed is dat God hom ryklik sal seën met gesondheid om die hele Helderberg-gemeenskap met trots nog vele jare te kan dien. Mag sy lojaliteit aan sy klub oorspoel na die generasie wat volg.”

Neels het gesê hy voel geseënd om die mylpaal te vier aangesien sy ouers albei op 60 jaar oorlede is en hy sy ouboet, Charl, op 63 aan die dood afgestaan het.

Neels is in die Booth Memorial-hospitaal in Oranjezicht, Kaapstad, as een van vier kinders gebore. Hy spog met ’n jonger suster, Hester (nou 78) in Hermanus, en jonger broer, Dawie (nou 68) in Wellington.

Neels het sy skoolloopbaan in 1949 aan Parow Voorbereidende Skool voortgesit en later as gr. 5-leerder by die Laerskool Parow Noord aangesluit. Hy het in 1956 aanbeweeg na die Hoërskool Tygerberg en in Julie daardie jaar by die Hoërskool Hottentots-Holland aangesluit toe hul gesin na Strand verhuis het.

Nadat hy in 1960 gematrikuleer het, het hy by Old Mutual se hoofkantoor in Pinelands begin werk en in 1962 nege maande verpligte militêre diens gedoen.

Aangesien die maatskappy hom nie ná sy militêre diens wou betaal nie, het hy bedank en ’n werksgeleentheid by die AECI-dinamietfabriek aanvaar.

Neels het later ’n verkoops­rigting ingevaar – eers as meubel-verkoopsman, later as takbestuurder, kredietbestuurder en nog later weer as verkoopsman (kommersiële reisiger) tot 53-jarige ouderdom toe hy besluit het om af te tree.

Maar, die kranige rugbyman meen sy lewensdoel was om as deel van die Helderberg-rugbyklub en langsaan klubmaats te dien. Hy het sy passie vir die kontaksport ná skool begin uitleef toe hy as lid van die o.19-span by die Somerset-Wes-rugbyklub aangesluit het. Hy het in 1966 oorgeskuif na die Gordonsbaai-rugbyklub, waar hy van 1967 gespeel en van 1968 tot 1998 in die bestuur gedien het – eers as wedstryd-sekretaris en van 1981 tot 1986 as klub-voorsitter. Neels het toe aanbeweeg om as stigterslid van die nuutgevormde Helderberg-rugbyklub saam met ander vername stigterslede – Bokkie Carstens, JC Kloppers, Brian Walley, Douglas Holwill, Jan F. le Roux en wyle Ludwig Andersen – te dien. Hy is van 1997 tot nou die klub se wedstryd-sekretaris en beoog om betrokke te bly tot sy asse in die klub se “Castle Corner” gestrooi word.

“My resep vir ’n lang lewe is geloof, gebed, nie rook nie en baie water drink (nooit brandewyn nie),” het ’n geesdriftige Neels meegedeel.

Sy seun Jacques het in die lig van die mylpaal meegedeel dat sy pa nie net ’n geliefde ouer vir hom is nie, maar ’n regte vriend. “Hy was en is altyd daar,” het hy gesê.” Ek hoop hy sal die volgende jare in vreugde geniet.”

You need to be Logged In to leave a comment.