’n Man van die Rastakamp-informele nedersetting in Sir Lowry’s Pass het amper sonder ’n heenkome gesit toe sy gewese vrou reggemaak het om na ’n nuwe woning in Riemvasmaak te trek, maar volgens die Stad Kaapstad se protokol moes die hele woning, waarin 12 mense woon, glo eers afgebreek word voordat die trek kon plaasvind.
Thomas Kalola het op Donderdag 23 November teen omstreeks 10:00 sy voet neergesit en geweier dat die Stad se werkers, wat op daardie tydstip reeds al sy gewese vrou se besittings uit haar gedeelte van die “hok” uitgedra het, aan sy besittings in die huis raak.
“My eks-vrou het ’n nuwe huis in Riemvasmaak by die Stad gekry, maar as deel hiervan wou hulle gehad het dat die hele struktuur waarin ons (11 mense) woon, ook afgebreek moes word. Ons woon al 26 jaar lank in die woning. My hele lewe is hier. Ek kon dit nie toelaat nie; ek kon nie toelaat dat my familielede sonder ’n heenkome sit nie. Ek moes my huis red,” sê Kalola.
Die Stad se werkers het al ’n gedeelte van die struktuur begin afbreek nadat al sy vrou se meubels uit die huis gehaal is en sy vir ’n vragmotor gewag het om al haar besittings te kom haal.
Melvin Ambrose, ’n gemeenskapsaktivis, het die vragmotor saam met ander lede uit die gemeenskap weggejaag voordat dit Kalola se gewese vrou se besittings kom haal het.
“Die mense word nuwe huise in Riemvasmaak beloof, maar dan moet hulle hul ou huise net so agterlaat,” brei hy uit.
Gemeenskapsleiers het DistriksPos & Helderberg Gazette een van die huise gewys wat al leegstaan sedert daardie huis se inwoners ’n nuwe woning in Riemvasmaak ontvang het.
“Ons weet nie hoe die Stad dink nie. Daar is baie mense wat wonings soek en ek sou dink hulle sou die ‘ou’ huise van die inwoners vir hulle gee, maar dit lyk my dit werk nie so nie.”
Ambrose is van mening die gemeenskap word verdruk terwyl die meeste van die mense in Rastakamp in absolute armoede lewe.
“Ons verstaan dat daar planne is om die informele nedersetting kleiner te maak. Ons wil verander; ons wil ontwikkel, maar as iets ontwikkel gaan word, dan moet eers na ons mense omgesien word,” sê hy.
Die Stad Kaapstad het bevestig dit is nog altyd sy beleid dat ’n begunstigde sy/haar struktuur moet verwyder voordat hulle in ’n formele eenheid in kan trek.
“Ons hervestig nie iemand as hy/sy nie hul struktuur wil verwyder nie. Op daardie oomblik (as hulle weier om hul struktuur af te breek) kyk ons na iemand anders wie se naam reeds op die lys is juis omdat die huise nie oopgelaat kan word nie. Ons probeer om konsekwent met die proses te wees,” sê Stad Kaapstad. . Kalola se gewese vrou het later die dag weer in haar kant van die struktuur ingetrek.


