’n Eiendomsagent van ’n plaaslike agentskap het vroeër vanjaar dit op haarself geneem om ’n nuwe tuiste te soek vir ’n kinderhuis in Gustrouw en het onlangs die goeie nuus gedeel dat ’n nuwe perseel in Genadendal gekoop is, maar dit is nou waar die gemeenskap van Helderberg hul hande in hul sakke moet druk om items te borg vir die kinderhuis se nuwe tuiste (“Nuwe tuiste vir kinderhuis gevind,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 15 November). Jeslyn Thorne, ’n administratiewe klerk van Seeff Strand, het die berig gelees en die eiendomsagentskap het Donderdag 16 November kombuisware, gordyne, beddegoed, klere en skoene aan Engela Murray, ’n eiendomsagent van Coastland Properties in Strand, wat die produkte namens Beacon of Hope ontvang het, geskenk. Murray het dit haar missie gemaak om die Beacon of Hope te help met hul soeke na ’n nuwe tuiste.