Die Kaap die Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV) het strafregtelike klagtes van dieremishandeling gelê teen ‘n bejaarde egpaar van Bridgewater Manor in Somerset-Wes nadat hulle op kamera vasgevang is waar hulle ‘n geliefde landgoedkat genaamd Moose onwettig verwyder en verlaat het.
Die egpaar sal na verwagting op Donderdag 8 Mei in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.
CCTV-beeldmateriaal het die oomblik vasgevang toe die bejaarde vrou Moose opgetel het voordat sy die landgoed saam met haar maat verlaat het, en Moose – vasgemaak in ‘n katdraer – in die kattebak van hul voertuig geplaas het. Deur die gebruik van CCTV- en nommerplaat-erkenningstegnologie (LPR) is hul bewegings van Somerset-Wes na Grabouw, meer as 30 kilometer daarvandaan, nagespoor, waar Moose later agter ‘n skool afgelaai en aan sy eie lot oorgelaat is (“Die kat kom weer”, 12 Maart).
Danksy die feit dat Moose ‘n mikrochip gehad het, het sy storie ‘n wending ten goede geneem. Vier dae nadat hy verlaat is, het ‘n goedhartige individu Moose ontdek en die Dierewelsynsvereniging in Grabouw gekontak. Moose is vir ‘n mikrochip geskandeer, en ‘n vreugdevolle hereniging het gevolg.
Bekommerde landgoedpersoneel, bewus van Moose se roetines, het onmiddellik vermoed dat iets verkeerd was. Die idee dat Moose op een of ander manier meer as 30 kilometer sonder hulp gereis het, was onwaarskynlik. Met die hersiening van die landgoed se CCTV-beeldmateriaal het die skokkende waarheid aan die lig gekom: Moose is doelbewus deur die bejaarde egpaar geneem en weggegooi. Die DBV is gekontak en ‘n amptelike ondersoek is van stapel gestuur, onder leiding van hoofinspekteur Jaco Pieterse. Tydens ondervraging het die egpaar erken dat hulle Moose “verskuif” het, maar beweer dat hulle onkundig was oor die onwettigheid van hul optrede. In ‘n video-onderhoud wat deur die landgoedbestuur gevoer is, het die egpaar blykbaar trots vertel hoe hulle die kat “verskuif” het – terwyl hulle selfs ‘n vals ligging verskaf het om hul spore te verdoesel.
“Dit is hartverskeurend om te dink dat enigiemand – nog minder volwasse, opgevoede individue – ‘n onskuldige dier soos wegwerpsel kon behandel. Moose was vreesbevange, alleen en verlaat. Ons skuld dit aan hom, en aan elke stemlose dier, om te verseker dat die verantwoordelikes ten volle aanspreeklik gehou word,” het Pieterse gesê.
Die verlaat van ‘n dier is ‘n kriminele oortreding ingevolge Artikel 2(1)(p) van die Wet op Dieresbeskerming 71 van 1962. By skuldigbevinding kan oortreders ‘n boete van tot R40 000 en/of 12 maande gevangenisstraf opgelê word, tesame met ‘n kriminele rekord.


