‘n Plaaslike polisiebeampte wat beskuldig is van moord in verband met ‘n skietvoorval drie jaar gelede in Somerset-Wes, is vandeesweek vrygespreek nadat die hof bevind het dat die beskuldiging nie bo redelike twyfel bewys kon word nie, tot groot teleurstelling van die oorledene se gesin en plaaslike ondersteuners. Hierdie foto is slegs vir illustrasie-doeleindes. Foto: Pexels


’n Plaaslike polisiebeampte, wat drie jaar gelede in verband met die skietmoord op ’n inwoner van Somerset-Wes-aangekla is, is vandeesweek in die Somerset-Wes-streekhof vrygespreek.

Die beskuldigde, Mahlubi Mzomba, het tereggestaan weens die moord op Robert van Wyk, wat tydens die polisieoptrede by sy huis in Chris Nissen-park ten aanskoue van sy twee minderjarige seuns doodgeskiet is.

DistriksPos & Helderberg Gazette het destyds berig polisiebeamptes van die misdaadvoorkomingseenheid het die oggend van Dinsdag 23 November 2021 glo op die gesin se huis in Uraniumstraat toegeslaan met ’n lasbrief om die woning vir dwelms te deursoek (“Dit was moord,” 25 November 2021).

Twee skote is tydens die klopjag deur polisiebeamptes afgevuur en Van Wyk is noodlottig gewond.

Die verhoor in die moordsaak het in Februarie vanjaar in die plaaslike streekhof begin (“Moordsaak teen wetstoepasser duur voort,” 21 Februarie). Mzomba, wat volgehou het dat hy rakende die gebeure op die dag uit selfverdediging geskiet het, is Maandag (25 November) vrygespreek nadat die staat die aanklag nie bo redelike twyfel kon bewys nie.

Lede van die Vroue in Aksie-beweging en die Chris Nissenpark-gemeenskap, wat elke hofverskyning ter ondersteuning van die oorledene se weduwee, Heibrey Jacobs, bygewoon het, het hul teleurstelling oor die hof­uit­spraak uitgespreek. Zorah Motasi, die voorsitter, het hul skok ná die uitspraak en frustrasie met die regstel­sel en howe te kenne gegee, “wat ver­on­derstel is om die bewakers te wees van dit wat edel, reg en regverdig is”.

Jacobs het ook haar ontevredenheid uitgespreek: “Ek voel so gefaal deur die regstelsel, veral dat dít die uitkoms is van die saak nadat die polisie my man voor my kinders doodgeskiet het en nou skotvry daarmee wegkom. Drie jaar het ons gewag vir geregtigheid vir die dood van Robert, en in stede hiervan kry ons meer teleurstelling en hartseer. Maar ons plaas ons vertroue in God, wat nooit teleurstel nie.”

Jacobs het haar dankbaarheid aan en waardering vir almal wat hul ondersteuning aan haar en haar kinders verleen, uitgespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.