In Gordonsbaai het verskeie wonings skade opgedoen en heelwat motors was ook onder water. Foto: Stiaan van Eeden


“Daardie vrou – daardie vrou staan by die kar! Is daardie vrou oukei?”

Dis die stem van Henry Roux, ’n inwoner van Strand, wat op die dak van die Gordonsbaai-seiljagklub gestaan en die springgety se golwe op sy iPhone afgeneem het toe hy ’n vrou naby ’n voertuig sien stap en sy die volgende oomblik onder groot golwe (wat oor die pad gespoel het) verdwyn het.

Van die grootste golwe nog het die kuslyn Saterdag (16 September) in die springgety getref en Roux, wie se foon se battery op 3% was, het die golf-groeperings soos hulle inkom, afgeneem. Hy het op die horison ’n groot golf sien aankom en toe hy weer kyk, breek die golf oor die wal-mure langs die seiljagklub voordat dit oor Kusweg by Bikini-strand spoel en die 41-jarige vrou se voete onder haar uitslaan. In die video, wat wyd en syd op sosiale media gedeel is, kan ’n mens sien hoe sterk die golf is nadat dit twee motors naby die vrou rondgeslinger het.

“Dit was so 14:40 se kant en ons gesin het die vloot se ope dag geniet. Ek wou die groot golwe eerstehands ervaar en het op die seiljagklub se dak gaan staan toe die hele storie voor my afgespeel het. Ek was geskok toe ek sien hoe die vrou verdwyn, maar gelukkig het iemand ingespring en haar uitgehelp. Sy kon gelukkig op ’n paar trappe klim na veiligheid,” herroep Roux.

Die man wat die vrou gered het, was volgens ’n ander bron haar man. Hulle het sny-merke opgedoen, maar was verder ongedeerd. Die koerant het daarin geslaag om kontak te maak met ’n kennis van die vrou, maar sy wou egter nie op die voorval kommentaar lewer nie.

Kort ná dié drama het ’n golf ’n klomp seewater deur Gordonsbaai se seiljagklub laat vloei en heelwat motors wat by Bikini-strand geparkeer gestaan het, in die water laat ronddobber.

Jana Loubser, die kommodoor by die Gordonsbaai-seiljagklub, het gesê van die golwe het deur die klubhuis gespoel. “Ons het elektriese skade opgedoen, maar niks groot nie. Van die bote se vasmeer-lyne het gebreek. Die grootste skade is by die marina, wat deur die brute krag van die golwe beskadig is. Ons sal dit moet herstel,” brei Loubser uit.

Stiaan van Eeden, wat by Bikini-strand woon, was een van die inwoners wat skade aan hul eiendom opgedoen het toe sy een motorhuisdeur agtertoe gebuig is. Die golwe was deel van ’n reeks golwe wat verwoesting gesaai en agt huise in Gordonsbaai asook die marina by die seiljagklub beskadig het, maar wonder bo wonder is geen lewensverlies aan die Helderberg-kuslyn aangemeld nie. In Strand, is geen restaurante insluitend dié by die paviljoen in die voorval beskadig nie.

Charlotte Powell, ’n woordvoerder van Kaapstad-rampbestuur, het bevestig die eiendomme wat beskadig is, is private eiendomme en die eienaars moet self hul skade herstel. “Die meeste van die skade wat aangemeld is, is op private eiendomme. Die onus berus dus op die eienaars om die skade self te herstel. Die Stad het verskeie opruim-optredes van stapel gestuur. In gevalle waar munisipale infrastruktuur beskadig is, sal die verantwoordelike departement daaraan aandag gee. Assessering is aan die gang om vas te stel watter munisipale infrastrukture beskadig is,” sê Powell.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die publiek gemaan om naby die kuslyn gedurende stormagtige seetoestande versigtig te wees.

In Gordonsbaai het verskeie wonings skade opgedoen en heelwat motors was ook onder water. Foto: Stiaan van Eeden

Seewater spoel oor Beach Road by Bikini-strand teen omstreeks 15:00 op 16 September.Foto: GB Sekuriteit

’n Motorhuis deur in Bikini-strand is gebuig deur sterk golwe wat in van die huise in die gebied vasgeslaan het. Foto: Rick Marais

Die Stad Kaapstad se opruimingspanne besig om modder en sand skoon te maak wat agtergelaat is deur die groot golwe van die afgelope naweek. Foto: Rick Marais

Die marina by Gordonsbaai se seiljagklub het ook skade gely na die naweek se springgety.Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article