Gemeenskappe in Strand, wat gereeld gebuk gaan onder geweld en misdaad wat veroorsaak word deur al die bendes en dwelmbase in die omgewing, het almal saamgespan om Saterdag 5 November ’n bewusmakingsveldtog te hou.

Die gemeenskappe van Gustrouw en Sercorpark, wat Broadlandspark en Rusthof insluit, het besluit om ’n bewusmakingsveldtog in die vorm van ’n staptog deur die gemeenskappe te hou.

Volgens apostel Manfred Jumat, voorsitter van die Broadlandspark-buurtwag, word die veldtog nie deur net een buurtwag gereël nie, maar almal trek saam om lig te werp op dwelms en bendes en die probleme wat dit in die onderskeie gemeenskappe skep.

Matilda Willemse van die Gustrouw-buurtwag is van mening dat die verskeie gemeenskappe se kinders ly onder druk wat op hulle as gevolg van dwelms en dwelmhandel geplaas word.

“Misdaad wat uit die handel in dwelms spruit, raak ons jongmense erg. Hulle word misbruik in die proses om in dwelms op straathoeke handel te dryf. Misdaad spruit uit die verkoop van dwelms, want inwoners word beroof en verslaafdes breek by huise in om geld vir dwelms te kry,” vertel Willemse.

Jumat sê die gemeenskapsorganisasies is byeen geroep om gesamentlike insette te gee en saam te praat oor die kwessies wat met misdaad verband hou.

“Ons het destyds ’n vergadering gehou om die probleme in ons omgewing te identifiseer. Verskeie organisasies het die afgelope Sondag (23 Oktober) op ’n vergadering in Broadlandspark besluit om saam te stap om ’n boodskap uit te stuur dat die organisasies dwelmhandelaars en bendes se misdrywe nie meer sal toelaat nie.”

Die uitnodigings is oop vir alle organisasies om die veldtog by te woon. Die staptog begin om 15:00 by die Rusthof Superette in Broadlandspark.

“Gemeenskaplede is moeg. Hulle eis oplossings. Hierdie is die poging wat ons aanwend van ons kant af. Ons kyk nie meer na rolspelers van buite nie – nee, ons kyk nou na binne vir oplossings uit die gemeenskap,” sê Jumat.

“Wat kan ons as gemeenskap doen vir onsself? Hoe kan ons self die probleme oplos? Dit is iets wat ons vir onsself moet vra. Wat kan ons as ’n gemeenskap saam doen? Ons almal moet vir een visie bymekaarstaan om ’n verskil te maak. Kom ons vat ons gemeenskappe wat deur hierdie euwels geterroriseer word, terug.”

Die Strand-gemeenskaps­polisiërings­forum (GPF) het bevestig sy lede sal ook die veldtog ondersteun en by die staptog sal aansluit.

“Ons vra al die organisasies en geestelike leiers in die gebied om by die veldtog betrokke te raak sodat gesamentlike oplossings kan plaasvind.”

You need to be Logged In to leave a comment.