Titelaktesveldtog bereik Macassar

‘n Aantal Macassar-gesinne is onlangs begunstig met titelaktes vir hul huise as deel van die Stad Kaapstad se titelakte-oorhandigingsveldtog.


‘n Aantal Macassar-gesinne is onlangs begunstig met titelaktes vir hul huise as deel van die Stad Kaapstad se titelakte-oorhandigingsveldtog. Die Akte-tot-Deur-veldtog poog om meer huiseienaars te skep, verblyf- reg te verseker en finansiële stabiliteit te bevorder. Die Stad het ook ‘n geleentheid aangebied waar inwoners direk met amptenare kon praat. Carl Pophaim, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings het gesê: “Met elke titelakte bied ons ‘n betekenisvolle uitwerking. Ons bring dienste regstreeks na die mense deur titelaktes te oorhandig en ons gedeelde reis na huiseienaarskap te bevorder.” Hy het bygevoeg die Stad sien daarna uit om in die volgende fase van die program met meer inwoners te skakel. Indien jy of ‘n familielid ‘n begunstigde van ‘n Stads-wooneenheid sonder ‘n titelakte is, besoek die kiosk vir menslike nedersettings op die tweede vloer van die Kaapstadse burgersentrum Maandag tot Vrydag tussen 09:00 en 12:00. Neem identiteitsdokumente, huweliksertifikaat (indien van toepassing) of gesagsbrief en doodsertifikaat (in geval van dood) saam. Stuur versoeke met die erfnommer en gebied (onderwerp), naam, ID-nommer en adres per e-pos na title.deeds@capetown.gov.zaarrow_outward of bel 021 444 0333 vir navrae. Op die foto (van links) is die raadslede Carl Pophaim, Peter Helfrich (Wyk 109), Chantal Cerfontein (Wyk 85 en subraad 8-voorsitter) en Sean Stacey (Wyk 100) by die trotse huiseienaar, Susan Davids.

You need to be Logged In to leave a comment.