Trompop-botsing op Macassar-weg eis vrou (49)

’n Vroulike insittende is dood en nog drie met ernstige beserings gehospitaliseer ná ’n trompop-botsing buite Macassar.


’n Vroulike insittende is dood en nog drie met ernstige beserings gehospitaliseer ná ’n trompop-botsing buite Macassar.

Die voorval het op Donderdag 21 November kort voor 14:00 in Macassar-weg afgespeel toe twee motors oorkant die rioolaanleg reg van voor gebots het.

Verskeie nooddienste insluitend die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddings- en verkeersdienste, asook ER24 en die provinsie se metro-nooddiens het op die voorval gereageer.

Maxine Bezuidenhout, woordvoerder vir die Stad se verkeersdiens, het die botsing tussen twee voertuie op die hoek van Macassarweg en Dohstraat bevestig.

Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, het brandweerspanne van Macassar-brandweerstasie omstreeks 13:45 op ’n noodoproep gereageer.

“Een insittende, ’n vrou, het op die toneel aan haar beserings beswyk. Drie ander, twee mans en ’n vrou wat ernstige beserings opgedoen het, is in ’n kritieke toestand deur paramedici na nabygeleë hospitale vervoer,” het Carelse gesê.

Macassar-polisie se woordvoerder, AO Desire Adendolf, het gesê ’n saak van strafbare manslag word ná die noodlottige botsing waarin ’n wit Audi A4 en wit Volkswagen Polo betrokke was ondersoek. “Daar word beweer dat die Audi waarin ’n vermeende middeljarige Nederlandse paar gery het, in die verkeerde baan in die rigting van Kaapstad beweeg het,” het Adendolf gesê.

Sy het voorts bevestig dat ’n 49-jarige vroulike amptenaar van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid se Khayelitsha-kantoor in die botsing geëis is. Die oorledene was glo saam met ’n kollega na Somerset-Wes onderweg toe die noodlot tref.

You need to be Logged In to leave a comment.