Judith Vollmer het die prys vir “Beste Novelle” vir haar uitmuntende werk getiteld Lofsang asook Kyla se Kerswens gewen.

Meer as 123 skrywers van oor die land heen is Saterdag 25 Oktober by die tweede Cape Flats Literary Awards vereer.

Dié glansryke geleentheid het by die luukse Krystal Beach-hotel in Gordonsbaai plaasgevind.

Twee plaaslike skrywers van die Helderberg-omgewing, Romanie Davids en Judith Vollmer, het die streek trots gemaak deur gesogte pryse los te skryf.

Romanie Davids (links) en Judith Vollmer, het die streek trots gemaak deur gesogte toekennings in te palm.
Romanie Davids (links) en Judith Vollmer, het die streek trots gemaak deur gesogte toekennings in te palm.

Die prysuitdeling het skrywers van verskillende genres en agtergronde bymekaargebring om literêre prestasies te vier.

Davids is vir haar inspirerende boek Ek is genoeg vereer. Die erkenning was ‘n dubbele prestasie vir haar, aangesien haar boek ook op dieselfde oggend as die prysuitdeling amptelik bekend gestel is.

Vollmer het met die toekenning vir “Beste novelle” weggestap vir haar uitmuntende werk getiteld Lofsang.

Vollmer het ná die ontvangs van haar prys haar dankbaarheid en verrassing uitgespreek.

“Dit was ‘n groot eer; ek het [dit] nie verwag nie,” het sy gesê.

Sy het terselfdertyd ook haar volgende projek aangekondig. Haar nuwe kinderboek, ‘n Taxi vol stories, sal vroeg volgende jaar bekendgestel word.

You need to be Logged In to leave a comment.