Twee misdadigers van Macassar ry aan die pen nadat hulle skuldig bevind is aan die skietmoord op ‘n tienerseun op Kersdag byna nege jaar gelede.
Die moordbeskuldigdes, Jenoban Lott en Keaton Lewis, is op Donderdag 6 Maart in die Somerset-Wes-streekhof elk 30 jaar gevangenisstraf opgelê. Dit nadat Lott en Lewis onderskeidelik skuldig bevind is op verskeie aanklagte waaronder die moord op die 16-jarige Kyle Bosman op Sondag 25 Desember 2016 in die Bellglen-gemeenskap.
Die Macassar-polisie het omstreeks 06:00 op die skietvoorval in Austerstraat gereageer waar hulle die tienerseun se lewelose liggaam aangetref het. Luidens ‘n verslag is die oorledene gevind waar hy op ‘n kissie gesit en tydens die skietvoorval agteroor op sy rug geval het. Die oorledene was glo onder ‘n groep van ongeveer vyf jong mans wat in die straat verkeer het.
Volgens die ondersoekbeampte, speursersant Norman Ngonelo, het ‘n enkele getuie wat in die groep was verklaar dat hy ‘n skoot hoor afgaan het. Hy het opgekyk en die twee beskuldigdes in die gesig gestaar.
Lott het ‘n vuurwapen teen die getuie se kop gedruk en die sneller getrek, maar die skoot het nie afgegaan nie. Almal het op die vlug geslaan, insluitend die getuie,
wat terwyl hy gehardloop het, nog ‘n skoot hoor afgaan het. Toe hy terugkyk, het hy Lewis ook met ‘n vuurwapen gesien.
Nadat hy hulp gaan soek het, het hy na die toneel teruggekeer van waar die beskuldigdes gevlug het en die oorledene in ‘n plas bloed aangetref.
Die oorledene het aan skietwonde in die nek en bors beswyk.
Die getuie is die dag ná die skietmoord geteiken en in die maag gewond, maar het die voorval oorleef.
Bosman se moordsaak is aanvanklik deur die provinsiale Operasionele Koördineringsentrum (POCC) oorgeneem voordat die dossier in 2019 vir verdere ondersoek terug in Ngonelo se skoot beland het.
Ngonelo het buitengewone
moeite gedoen om verklarings te bekom en die beskuldigdes aan te keer. Sy volharding het vrugte afgewerp toe Lott op 4 April 2019 deur POCC-lede in hegtenis geneem is, en hy self Lewis op 27 April 2019 gearresteer het. Albei beskuldigdes is borgtog toegestaan weens die lang duur van die ondersoek.
Die verhoor, wat verlede jaar begin het, het aanvanklik met slegs forensiese bewyse en sonder ooggetuies voortgegaan.
Ngonelo het die getuie, wat in die Noord-Kaap woon nadat hy bedreig is, opgespoor.
Die getuie het verskeie kere getuig en sy getuienis was so oortuigend dat die landdros Ngonelo beveel het om sy veiligheid te verseker. Die verdediging het ‘n teenstrydige getuie van die toneel opgeroep, wie se getuienis vals geblyk het.
Albei beskuldigdes is vroeër vandeesmaand skuldig bevind en tot vonnisoplegging aangehou.
Lott is 30 jaar tronkstraf opgelê vir moord (aanklag 1), vyf jaar vir poging tot moord (aanklag 2), agt jaar vir die besit van ‘n vuurwapen (aanklag 3), en drie jaar vir die besit van ammunisie (aanklag 4). Die vonnisse vir aanklagte 2, 3 en 4 sal gelyktydig met die vonnis vir aanklag 1 uitgedien word. Lott is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Lewis is 30 jaar tronkstraf vir moord (aanklag 1) opgelê, sowel as agt jaar vir die besit van ‘n vuurwapen (aanklag 3), en drie jaar vir die besit van ammunisie (aanklag 4).
Die vonnisse vir aanklagte 3 en 4 sal gelyktydig met die vonnie vir aanklag 1 uitgedien word.
Lewis is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
“Ek voel goed oor die vonnisopleggings. Dit stuur ‘n sterk boodskap aan die gemeenskap dat misdadigers in Macassar nie sommer kan maak en breek en dink hulle kan daarmee wegkom nie. Dit beteken ook baie vir die bedroefde pa van die oorledene, wat, al was hy nie ‘n engel nie, nie so wreed van die lewe ontneem moes word nie. Ek is bly dat geregtigheid uiteindelik geseëvier het, al het dit nege jaar geneem,” het Ngonelo gesê.
Die staatsaanklaer, Deirdre Hindley, het die belangrikheid van die sleutelbewys, naamlik twee .45mm-koeëldoppies wat op die toneel deur die polisie gekry is, beklemtoon. Ballistiese bewyse het aangedui dat hierdie doppies van ‘n semi-outomatiese pistool was. “Die beskuldigdes is aangekla van wapen- en ammunisiebesit, hoewel geen werklike wapens deur die owerhede gevind is nie,” het sy aangevoer.
Bosman se pa, Petrus, het sy blydskap oor die vonnisse uitgespreek.
“Die afgelope nege jaar was moeilik vir ons as gesin,” het die ouer gesê, wat self agter die skerms druk op die owerhede geplaas het om geregtigheid vir sy seun te verseker”.
Oorledene se pa, Petrus Bosman.
Hy het hom ná die inhegtenisneming van een van die moordbeskuldigdes tot die koerant gewend en uitgepraat teen die misdaad wat hom sy seun gekos het (“Suspect behind bars two years after teen’s murder”, DistriksPos, 11 April 2019).
“Ek dink hy sou trots gewees het op die hofuitspraak, wat bewys het dat God getrou is. Ons hoef niks te doen nie, terwyl Hy, die regverdige regter, in beheer is,” het Bosman geseê.
“Ek wil graag die speurders bedank wat die ekstra myl geloop het en sodoende my vertroue in die owerhede en die regstelsel herstel het.”




You must be logged in to post a comment.