“Hulle het my varke kom steel,” sê ‘n vrou wie se 50 varke deel was van die 96 waarop die die Kaap die Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV) die afgelope Donderdag (13 November) in Sir Lowry’s Pass beslag gelê het.
Die dramatiese optrede het om 10:00 by dierehokke langs die spoorlyn agter Van Aardestraat begin. DBV-personeel het die hokke binnegegaan met ondersteuning van die Somerset-Wes-polisie en die Stad Kaapstad se dierebeheereenheid.

Chaos en ‘n geskree het uitgebreek toe mense saamgedrom en gekyk het hoe amptenare die diere aanjaag en varkies na veiligheid dra. Die varke is weggeneem en is veilig op die DBV se plaaswerf.
Die informele varkboer sê sy is diep teleurgesteld en voel sy het alles reg gedoen. “Hulle het vir ons gesê ons moet die varke se hokke skoon hou, en dit is presies wat ons gedoen het,” sê sy.
Sy beweer die DBV het nooit persoonlik met haar kontak gemaak nie, maar net met een van haar werkers gepraat. Volgens haar stel die beslaglegging haar kleindogter se vlieënierstudies in gevaar.
“My kleinkind het gehuil toe ek vir haar sê ‘die mense het die varke kom haal’. Daai kind kan nou nie verder gaan leer nie,” sê sy.
Sy beskryf die voorval as diskriminasie teen kleinskaalse boere uit voorheen benadeelde gemeenskappe.
Dit is nie die einde nie; ons gaan terugveg. Ek wil my varke terug hê!
Die Helderberg-gemeenskapsaktivis Christiaan Steward het namens die eienaar na vore gekom en die beslaglegging veroordeel. Hy bevraagteken die wettigheid daarvan en eis die onmiddellike terugbesorging van die diere.

‘DIEFSTAL’
Hy beweer die eienaar is onregverdig behandel en noem die beslaglegging “diefstal”.
Belinda Abraham, ‘n DBV-woordvoerder, sê die dierebeskermingsagentskap erken Steward nie as ‘n verteenwoordiger nie. Sy sê die optrede volg ná ‘n hofbevel nadat welsynskwessies in vorige waarskuwings aan die eienaars van die hokke uitgelig is.
“DBV-inspekteurs het bevind die varke het in hul eie ontlasting geleef sonder toegang tot drinkwater – ‘n oortreding van die Dierebeskermingswet,” verduidelik Abraham.

Sy sê die DBV probeer sedert Mei met die varkboere saamwerk, maar “dit is baie ongelukkig; hulle het nie saamgewerk nie”.
Abraham toon empatie vir die eienaar se situasie, maar sê ekonomiese omstandighede kan nie diere in onmenslike toestande regverdig nie.
“Die saak het nooit oor boerdery gegaan nie, maar oor dierewelsyn,” sê sy.
Eddie Andrews, onderburgemeester en die burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing, bevestig die gebied waar die hokke geleë is, behoort aan Transnet en is vir vervoerdoeleindes gesoneer.
“Die eiendom mag slegs vir vervoerverwante aktiwiteite gebruik word,” sê Andrews.
Wayne Dyason van die Stad se wetstoepassingsafdeling sê hulle was nie bewus van die hokke totdat die DBV hulle genader het nie. Die departement het geen aansoeke van varkeienaars ontvang nie en ook geen klagtes oor die hokke gehad nie.
Dyason ontken kennis van enige beloftes om die hokke te verskuif, soos die eienaar beweer.
“Ons kan nie toelaat dat diere verwaarloos word nie en sal ingryp wanneer nodig,” sê hy.



You must be logged in to post a comment.