Die koor van die Verenigende kerk Macassar in sang-aksie tydens die ATKV-Suidoosterfees se koorkompetisie.

Die koor van die Verenigende kerk Macassar het goud in die ATKV-Suidoosterfees se koorkompetisie losgesing.

Die plaaslike koor is nadat hulle verlede Sondag (4 Mei) harte met hul stemme verower het, as wenner van die afdeling vir kerkkore aangewys.

“Dit was ‘n geweldige verrassing vir die koor, maar die lede is in ekstase oor die prestasie,” het die dirigent, Roger Rooi-Horne, gesê.

Die koor het in die kompetisie een gewyde lied en een sekulêre lied opgevoer. Hul gewyde keuse was die bekende ou gesang “Blye versekering”. Die sekulêre lied was ‘n Suid-Afrikaanse medley waarin hulle vyf bekende liedere met gepaste bewegings gesing het.

Die medley het begin met “Jantjie kom huis toe”, waarna dit oorgegaan het na “Al lê die berge nog so blou”, gevolg deur “Bobbejaan klim die berg” en “Daar kom die Alibama”, en hulle het uiteindelik afgesluit met “Akkedissie”.

Op die vraag wat die oorwinning beteken, het Rooi-Horne gesê: “‘n Kerkkoor is hoofsaaklik gewoond daaraan om by eredienste op te tree. Hul bestaan wentel meestal om oefeninge en die weeklikse optrede tydens die erediens. Daarom was dit ‘n unieke ontwikkeling toe die ATKV-Suidoosterfees vir die eerste keer in sy 22-jarige geskiedenis ‘n afdeling vir kerkkore ingestel het. Hierdie oorwinning is dus besonder spesiaal, aangesien ons die eerste wenners van die Kerkkoor-afdeling in die geskiedenis van hierdie roemryke korekompetisie is.”

Volgens Rooi-Horne bestaan die Verenigende kerk-koor van Macassar al langer as 43 jaar en pronk met ‘n merkwaardige geskiedenis, met sommige stigterslede wat steeds sing.

Die koor bestaan tans uit 40 aktiewe lede, en elkeen vervul ‘n belangrike rol. Hulle verdien spesiale erkenning, want hulle word geleer om “altyd mooi te bly”.

“[Die VGK Macassar] is ‘n singende gemeente. Ons is geseën met ‘n predikant wat musiek kan lees en ook’n kranige saksofoon-speler is. Grootliks is die groot rol om jou musiek en sang te geniet en jou alles te gee, en die groot doel is altyd – sing tot eer van ons God,” het die dirigent bygevoeg.

Die kerkkoor het verlede jaar aan die Gemeenskapskoor-afdeling deelgeneem, waarin hulle teen ‘n jeugkoor – wat dit verdien het om te wen – moes sing. Die grootste les wat hulle met dié deelname geleer het, was om aan die beoordelaars se kritiek oor waar om te verbeter, te werk. “Hierdie kritiek het ons gehelp om vir die 2025-kompetisie te verbeter. Een aspek was die keuse van liedere – ons het ons liedere volgens die terugvoer aangepas. Die grootste ervaring in 2024 was om te leer en te verbeter, en dít was ons hoofdoel in 2025,” het Rooi-Horne gesê.

Rooi-Horne, wat reeds op die ouderdom van 18 die Verenigende kerk Eersterivier se koor afgerig het, het in 2007 die jongste wenner in die geskiedenis van die ATKV-Suidoosterfees se koorkompetisie geword toe hy die afdeling gewen het. Hy het hierdie prestasie in 2015 herhaal met The Church of the Resurrection-kerkkoor en weer 10 jaar later – in 2025 – met die VGK Macassar-kerkkoor. Rooi-Horne ag homself ‘n harde werker wat glo dat harde werk sukses bring. Hy het spesiale en ekstra oefeninge gereël om aan die koor se fyner tegnieke te werk en baie opofferings saam met elke koorlid gemaak.

Rooi-Horne het hul dankbaarheid vir die ondersteuning van die gemeenskap, wat in hul trots en vreugde deel, uitgespreek. “Bly nederig; moet jouself

nooit beter ag as ander nie. Loof die Here, bly mooi en respekteer mekaar altyd,” is die boodskap is wat hy uitstuur.

Die koor bied op Sondag 16 November om 14:00 ‘n Kore-gala met top-kore en hoëprofielgaste in die Hoërskool Macassar-saal aan. Almal is welkom om die sanggeleentheid by te woon. Enige geldelike skenkings sal waardeer word. Verder werk die koor hard aan sy droom om in 2026 aan die Wêreldkoorspele in Nieu-Seeland deel te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.